By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Reisgids – Die Vrystaat Wag!

Ons het so ‘n pragtige land, vol reisjuwele en hoewel baie mense aan die Vrystaat dink as die provinsie van mielies, koring en plaasdiere is dit ‘n besonderse kultuurryke provinsie met wonderlike bestemmings om nie mis te loop nie. Ons stel voor dat jy ons reisgids nagaan vir verblyf en oorde om tuis te gaan terwyl jy die plekke hieronder besoek.

Betlehem lê aan die voet van die Maluti bergreeks en dit is juis die besonderse vallei wat die koringboere van die tyd die inspirasie vir die dorp se naam gegee het. Bethulie is nog ‘n dorpie wat jy nie moet misry nie. Daar is verskeie verblyfplekke in die omgewing en die dorpie is histories ryk, maar dit is nie die enigste rede om so bietjie daar rond te reis nie. Daar is ook verskeie natuurreservate en watersport is baie gewild weens die baie damme in die omgewing. Natuurlik sal ‘n reis deur die Vrystaat nie volledig wees sonder om by Bloemfontein aan te gaan nie. As die hoofstad van die Vrystaat het Bloemfontein veskeie museums en pryk dit met pragtige rose.

Clarens is die kunshart van die provinsie en is in die Oos-Vrystaat sowat 21 km vanaf die Golden Gate Nasionale Park geleë. Verskeie kunsgallerye, klein restaurante, gesondheidswinkels en oorde maak dit een van die juwele wat die Vrystaat so unieke karakter gee.

Dewetsdorp is vernoem na die De Wet helde van die Anglo-Boere Oorlog. Geleë op die Kareefontein plaas het die dorp ‘n golfbaan wat enige kranige golf entusias sal wil  probeer speel. Fauresmith het ‘n ryk geskiedenis en as jy graag ‘n paar monumente wil besoek is dit die dorp in te kuier. Daar is ook baie avontuuraktiwiteite in die onmiddelike omgewing wat jou vakansie so ‘n effens avontuurlistige kleur sal gee.

Ficksburg, hoewel ‘n klein dorpie aan die voet van die Imperani Berg, is die dorp waar die beroemde kersiefees gehou word. Harrismith is bekend vir die Sterkfontein Dam en Reservaat wat een van die diepste en skoonste damme in Suid-Afrika is. Wanneer die wind opsteek oor die dam wat op een plek oor die 90 meter diep is dan lyk dit amper soos ‘n stormsee. Gariep Dam is ‘n ook gewilde vakansieoord en is die grootste binnelandse watermassa in die land.

Jakobsdal is waar die Magersfontein slagveld was en jy sal baie van die Brit-Boer stryd in die museum sowat 20 km van die dorp leer. Dit is ‘n historiese skat wat beslis die moeite werd is om te besoek. Jagersfontein was eens oortrek met diamant-delwers en vandag kan jy nog die ope myn museum besoek en bietjie meer van die 971 karaat diamant wat daar gevind is te wete kom. Koffiefontein, so vernoem weens die reisigers wat daar aangegaan het om ‘n koppie koffie of twee te geniet, het later van funksie verander toe daar ‘n diamand ontdek is.

Kroonstad is die derde grootste dorp in die provinsie en die een dorp wat jy liefs in die warmer somermaande wil besoek. Luckhof is naby die Van der Kloof Dam geleë en is bekend vir die Rolfontein Natuurrreservaat. Philippolis is ‘n ou sendingstasie en is die oudste dorp in die Vrystaat. Parys grens aan die Vaalrivier en is ‘n kort-rit vanaf Sasolburg, bekend vir sy petrolaanleg. Die klein dorpie het ‘n romantiese atmosfeer en pronk met ‘n klomp eetplekkies. Dit is ook bekend vir natuurskoon en witwater-vaart.

Daar is nog baie ander dorpe soos Petrusburg en Welkom om te ontdek. Gebruik ons reisgids vir meer inligting oor wegbreekplekke in die Vrystaat.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site