By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Dawie Roodt in Onderhoud met Tim Modise Spreek Homself Uit Oor Toestande in die Land

Die bekende ekonoom en ankeraanbieder van Ontbytsake het onlangs in ‘n onderhoud met Tim Modise weer – soos gewoonlik – besonders goeie insig gedeel oor die toestand in die land. Hy het onder meer uitgewys dat Suid-Afrika die vermoë het om die vlaag van geweld stop te sit en die hoë werkloosheidsyfer aan te spreek. Volgens hom kan die land ‘n groeikoers van 5% behaal, maar verkeerde beleidsbesluite verhinder enige groei.

Die aanval op die Roodt gesin het daartoe gelei dat Dawie ‘n publieke brief aangaande die land se toekoms aan Suid-Afrikaners gerig het. Ook volgens sy onderhoud met Tim Modise is die land se toekoms in die hande van jong mense wat werkloos is en die toekoms van die land lyk angswekkend as daar na die hoë gewelds vlak gekyk word. Die tekort aan vaardighede dra by tot die gewelddadige kultuur wat daar in die land ontstaan het. Alhoewel hy die gewelddadige kant van Suid-Afrikaners met die aanval op sy gesin direk ervaar en beleef het, is hy dit ook eens dat daar hoop vir die land is. Sy bure het hom in die nood bygestaan en die hospitaalpersoneel was uiters bekwaam en behulpsaam.

Volgens hom is daar goed en sleg in die land, maar die goed is beslis nog aan die wenkant. Dawie het aan Modise verduidelik dat die kabinet, parlement en president daar is om die mense van die land te dien en dat die burgers die belangrikste mense in Suid-Afrika is. Die stelsels is veronderstel om die lewe vir mense makliker te maak. Hy het voortgegaan om te verduidelik dat die staatsinstellings en die onderskeie staatsondernemings, soos Eskom en die SAL, swak bestuur word en hy het uitgewys dat Eskom die Suid-Afrikaanse ekonomie reeds meer as R300 biljoen per jaar kos, wat aan slegte politieke leierskap toegeskryf kan word.

Hy het ook aan Tim gesê dat die staatswerknemers nodig het om te bedank en dat hulle heraansoek vir hulle poste moet doen. Slegs diegene wat verdienstelik is en dus oor die nodige kwalifikasies, opleiding en meriete beskik moet weer aangestel word en politieke kontakte behoort glad nie ‘n rol daarin te speel nie.

Roodt se oplossing vir Suid-Afrika sluit die ontwikkeling en implementering van ‘n wêreldklas opvoedkundige stelsel in. Volgens hom is die opvoedingstelsel in ‘n haglike toestand, al is dit die grootste uitgawe op die begroting. ‘n Verdere probleem wat volgens hom aangespreek behoort te word is hoe moeilik dit vir mense is om werk te vind. Hy voel dat die land goeie politieke leierskap dringend benodig om die land weer op die regte spoor te plaas.

As Dawie Roodt praat luister mense want sy insig aangaande fiskale en politieke sake is beslis waardevol.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site