By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Lesse te leer by Dawie Roodt

Dawie Roodt, bekende hoofekonoom van The Efficient Group, is ook ‘n ankeraanbieder by die gewilde Ontbytsake program wat deur duisende kykers in Suid-Afrika ondersteun word.

Sy passie vir ekonomie en fiskale sake het eintlik per ongeluk ontstaan. Hy het nie Ekonomie as vak op skool geneem nie en volgens hom het hy amper niks van ekonomie geweet nie. Aanvanklik het hy nie eers daarin belang gestel nie en die verwante onderwerpe op die televisie en radio het hom koud gelaat.

Hy was nie ‘n uitblinker op skool nie en sy pa het hom gewaarsku dat met sy swak punte hy nooit by ‘n universiteit toegelaat sou word nie. Terwyl Dawie sy diensplig in die Suid-Afrikaanse Weermag gedoen het, het hy die geleentheid gebruik om by UNISA in te skryf. Verbasend genoeg het hy vir B.Com geregistreer en glad nie sleg gevaar nie. Hy het natuurlik in daardie tyd alles omtrent ekonomie begin bestudeer.

Die vak Ekonomie het hom geprikkel and hy het groot belangstelling ontwikkel. Daar was die besef dat ekonomie nie oor syfers en grafieke gaan nie maar dat mense die middelpunt vorm. Vreemd genoeg, het hy sy tweede jaar gepluk. Hy skryf dit toe aan die feit dat hy vir sy eerste jaar aan UNISA self betaal het maar toe hy ‘n voltydse student word het sy pa daarvoor betaal.

Die lewensles wat hy geleer het is dat as jy self vir iets betaal sal jy heel waarskynlik slaag.

Dawie Roodt het ‘n lang geskiedenis as ekonomiese kundige en Suid-Afrikaners het oor die jare heen geleer om te luister as hy praat want hy is gewoonlik reg. Hy het onder andere by die Suid-Afrikaanse Reserwe Bank tot net voor 1994 gewerk voordat hy ‘n  ekonoom geword het en by makelaarsmaatskappye begin werk het.

Nog ‘n les wat Dawie reeds vroeg in sy lewe geleer het is dat dit belangrik is om van jouself te hou.

Hy wou graag goed in iets wees maar was ‘n gemiddelde presteerder in sy jongdae. Hy het stelselmatig van homself begin hou en dit was ‘n keerpunt in sy lewe. Dawie het besef dat die kaarte uitgedeel is en jy die beste met die kaarte in jou hand moet doen. Hy het sy lewensuitkyk verander en besef dat hy eintlik ‘n hele paar goeie kaarte ontvang het.

Dit is toe wat hy begin het om goed te doen wat hy gedink het hy kan nie soos om ‘n televisie programaanbieder te wees. Sy lewensfilosofie van nie terugstaan vir uitdagings nie het ook daartoe gelei dat hy die Comrades in 2015 gehardloop het.

Dit is hierdie persoon wat kykers vandag so bemin – weens sy positiewe uitkyk op die lewe, insig oor die ekonomie en die vermoë om te inspireer selfs al lyk die ekonomie maar donker.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site