By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Die Mens agter die Ekonoom van Ontbytsake

As daar nou een persoon is wat amper geen bekendstelling nodig het nie, is dit Dawie Roodt. As jy hom iewers in die openbaar sou raakloop sou jy hom heel moontlik miskyk. Nie om enige ander rede nie as dat hy nie die soort bekende is wat daarmee te koop loop nie. Dit is hierdie lekker-kuier gesindheid en grappige houding wat mense so van hom bemin.

Moet egter nie die fout begaan om te dink dat geselligheid ál is waaroor die lewe vir Dawie gaan nie. Hy is eintlik ook ‘n heel ernstige ekonoom wat menige politikus al bietjie oor die vingers getik het met sy skerp insig. As Roodt die ekonomie ontleed, dan luister mense, maar agter die ekonoom is ook ‘n mens met ‘n verhaal.

Enkele inligtingsbrokkies oor Dawie Roodt waarvan jy moontlik nie kennis dra nie word kortliks hieronder gedeel om jou so bietjie insig te gee aangaande die gewilde ankeraanbieder van Ontbytsake.

Dawie het ook mislukkings in sy lewe beleef. ‘n Mens dink amper dat so vername ekonoom nog nooit die bitter pil van afdanking moes sluk nie. Hy het twee keer sy werk weens ongunstige omstandighede verloor. Dit het het egter nie beteken dat hy gaan lê het nie en dit is hier waar ons uit sy ervaring kan leer.

Hy het ná die tweede aflegging besluit om ‘n besigheid te begin omdat hy geen ander keuse gehad het nie. Dit was die begin van die uiters suksesvolle Efficient Group wat vandag ‘n gelyste maatskappy is. Die maatskappy het tans 400 werknemers en die groep bestuur groot fondse.

Volgens Dawie sou hy nie dit kon begin het as hy nie sy werk verloor het nie. Sy raad is om nie ‘n struikelblok as iets sleg te sien wat die einde van die pad vir jou beteken nie. Volgens hom kan jy dalk verras wees oor die vele geleenthede wat só ‘n gebeurtenis in jou lewe kan meebring.

Dawie Roodt is ook nie onbekend met die lelike sy van die land nie. Hy en sy gesin is verlede jaar in hulle woning aangehou en hy was redelik ernstig beseer in die skermutseling met een van die aanvallers. Dawie het ná sy herstel sy ervaring met die publiek gedeel en ‘n ope brief oor die misdaad in Suid-Afrika geskryf. Daarin het hy hom teen die korrupte stelsel uitgespreek en bevestig dat misdaad hom nie sou onderkry nie. Hy het Suid-Afrikaners aangemoedig om die bul by die horings te pak en korrupsie, misdaad en negatiwiteit die hoof te bied. Sy brief het verder baie duidelike riglyne verskaf.

As jy nog nie Ontbytsake gekyk het nie, doen dit hierdie week, want Dawie gaan oor die ekonomie gesels en jy wil nie sy skerp humorsin misloop nie.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site