1. Die Groot Pynappel in Bathurst
Die Oos-Kaap is ‘n besonderse mooi deel van
die land en jy kan van die vreemdste besienswaardighede op jou reis na die
onbekende hier vind. Die Groot Pynappel in Bathurst is een van hulle. Bathurst
is bekend as die Pynappel-hoofstad van Suid-Afrika en is die trotse staanplek van
die grootste nagemaakte pynappel ter wêreld – selfs groter as die een in
Australië! Dit is ’n ou watertenk wat in ‘n toeristeaantreklikheid omskep is en
is meer as 16 meter hoog. Jy kan ook ’n kort film oor pynappelproduksie binne-in
die pynappel sien en so bietjie op die uitkyktoring ontspan. Dit is te
Summerhill-plaas op die R67 geleë.
2. Uilhuis in Nieu-Bethesda
‘n Besoek aan Graaff-Reinet sal nie afgerond
wees sonder om ook in Nieu-Bethesda ’n draai te draai om so bietjie by Helen
Martins se Uilhuis in te loer nie. Enig in sy soort in Suid-Afrika, huisves die
woning ’n aantal glas- en betonstandbeelde. Die tuin is soos ’n sprokieswêreld
met kerse, spieëls en lanterns wat strategies geplaas is om lig op spesifieke
tye van die dag te weerkaats. Dit is in Martinstraat geleë.
3. Spinnekopdame van Hanover
In die vêrafgeleë Noord-Kaap is ‘n
besoek aan die Spinnekopvrou (of -dame, soos sy ook bekend staan) nog vreemder
en vir sommige mense skrikwekkend! Marié de Jager het haar hele woning in ‘n
lewende museum vol skerpioen- en spinnekoptuistes omskep. Dink aan ‘n
agtvoetige en jy sal dit daar vind, of dit nou ‘n krapspinnekop met sy
onaardige ses ogies of ‘n vreesaanjaende knopie is. Jy sal die ongewone museum
op die N1 te Driekoppen-plaas nie wil misloop as jy van spinnekoppe hou nie.
4. Riemvasmaak se Pienk Rooskwartsberg
Moenie net na die Augrabies gaan wanneer
jy weer in die Noord-Kaap is nie. Daar naby is ‘n plekkie genaamd Riemvasmaak.
As jy ’n 4x4-voertuig het kan jy deur die natuurreservaat reis en die mooiste
roospienk kwartskoppie sien. Jy sal ook bobbejaanspieël teen die omliggende
kranse kan gewaar. Vra by die Augrabies Natuurreservaat vir aanwysings.
Ontdek nog baie van Suid-Afrika se juwele en lekker-bly
akkommodasieplekkies in ons reisgidse.