By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Willem Basson en Dawie Roodt Deel Kundige Raad op Ontbytsake

Jy kan die risiko loop om vir jou ou skoolvriend vra hoe hy dink jy jou finansies moet bestuur, of jy kan Saterdae vroegoggend voor die kassie inskuif om insiggewende raad oor finansies en persoonlike geldsake te kry. Willem Basson gee kundige raad om jou te help in finansiële besluitneming in jou daaglikse lewe.

As iemand finansiële raad uitdeel, moet hy darem kennis oor die onderwerp hê. Jy sal bly wees om te hoor dat Willem Basson iemand is wat jare se ervaring en verskeie kwalifikasies in finansiële beplanning het. Willem het sy skoolloopbaan in 1982 aan die Hoërskool Voortrekker in Boksburg voltooi, gevolg deur twee jaar Nasionale Diensplig. Hy wou graag studeer en het aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, wat vandag bekend staan as Universiteit van Johannesburg, vir sy B.Proc.-graad ingeskryf. In 1987, het hy die regswêreld vir ‘n loopbaan in die versekeringswese verruil.

Hy het by Old Mutual aangesluit en oor ’n tydperk van 24 jaar in verskeie van Old Mutual se departemente gewerk. Dit het hom die geleentheid gebied om nasionale en internasionale ervaring in versekeringswese en finansiële raad en beplanning op te doen. Hy het oor die jare heen kennis opgebou oor polisse, die ontwikkeling van nuwe besigheidsmodelle, die aandelemark, en nog meer. Hy het selfs ’n bietjie skryfwerk gedoen.

As ’n man wat nie wil stagneer nie het Willem verder gestudeer en sy nagraadse Diploma in Kleinhandelbemarking deur die IMM voltooi en ook ingeskryf vir ’n nagraadse kwalifikasie in Finansiële Beplanning. Hy lei die Adviesdienste van die Efficient Group en buiten sy liefde vir werskaf agter die kospotte, gee hy Saterdae saam met Dawie Roodt raad oor finansiële beplanning, algemene geldsake, die ekonomie en nog meer, as deel van die Ontbytsake-span.

Dawie Roodt is alombekend vir sy skerpsinnigheid, besonderse finansiële vernuf, politieke insig en ook sy lekker geselstrant. As een van die ankeraanbieders van Ontbytsake, is hy gelief onder die kykers. Net soos Willem Basson het Dawie die nodige kennis, kwalifikasies en ervaring om kundige finansiële raad en insig met Ontbytsake-kykers te deel. Dawie is die Hoofekonoom by die Efficient Group. Vorige posisies sluit onder meer in Ekonoom by die Suid-Afrikaanse Reserwe Bank en Ekonomiese Redakteur by beide Finance Week en FinWeek.

Hy beskik oor B.Com.- en B.Com.Hons.-grade (Unisa) en ook ’n meestersgraad wat hy met lof by die destydse RAU verwerf het. Hy het ook by Trustbank en by AVBOB gewerk. Dawie is ’n direkteur en stigterslid van die Efficient Group.

Met hierdie twee kundiges om jou elke Saterdag oor die nuutste finansiële verwikkelinge in te lig, raad te gee oor geldsake soos boedelbeplanning en belasting en nog meer op Ontbytsake, het jy nou nog meer rede om op ’n Saterdag jou gunstelingprogram op kykNET te volg.

Saam met Willem Basson en Dawie Roodt is daar ook gaste, lekker resepte, nuus oor landbousake, die gewilde Sakefokus, so bietjie sport en nog meer om lekker vermaak en waardevolle inligting deel van die program te maak.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site