By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Maklike Resepte en Wenke vir Lekker Visgeregte

Vis is voedsaam en behoort ’n gereelde dis op die spyskaart te wees. Gelukkig, as jy ’n Ontbytsakekyker is, weet jy dat jy elke Saterdagoggend voor die kassie kan inskuif vir wenke en heelwat maklike resepte vir die gaarmaak van vleis, groente en vis. Jy is welkom om ons maklike resepte hier op ons tuisblad af te laai, sodat jy dit ter enige tyd beskikbaar kan hê. Met die verskeidenheid van resepte beskikbaar sal jou idees vir onthaal en lekker kook nooit opraak nie. Maar kom ons kyk so ’n bietjie na wenke vir die gaarmaak van vis om jou te help om die beste geregte voor te berei.

Wenke vir Vis Koop en Berg

As jy vars vis by die hawe of ’n handelaar koop, maak seker die oë is nie dof nie. Die oë moet dus nie so ’n wit skynsel hê nie. As jy bevrore vis koop, maak seker die vis is nog kliphard gevries. As dit enigsins sag is, kies ander vis of gaan na ’n ander handelaar. Vis wat wit vrieskolle op het moet ook vermy word.

Ontvries

As jy vis teen kamertemperatuur of met warm water ontvries, kan dit bakterieë vatplek gee. ’n Veiliger metode is om die vis in die yskas te ontvries. Dit sal so vier ure neem. As jy dit egter vinniger wil doen, gebruik ’n plastiek vriessakkie en plaas die vis in ’n bak gevul met baie koue water. Die sakkie moet heeltemal onder die water wees, maar maak baie seker dat die vis self nie met die water in aanraking kom nie, want dit sal veroorsaak dat dit water opneem en dit baie moeilik maak om die vis gaar te maak. Dit behoort so tussen 20 en 30 minute te neem om vis op hierdie manier te ontvries.

Wenke vir Gaarmaak

Moenie die vis te lank kook nie. As jy oorgaar maak, sal dit droog en smaakloos wees. Meet die vis by die dikste deel en kook dit vir tien minute vir elke 2,5 cm in dikte. Die vis moet ferm en wit wees, maar nog so bietjie deurskynend in die middel. As jy salm gaarmaak, verwyder die vis van die hitte sodra daar duidelike wit lyne in die vlees is. Ander lekker maniere om vis gaar te maak is om dit te panbraai, te oondrooster of te stoom.

Panbraai

Verhit die pan voordat jy die olie ingooi, want dit voorkom dat die olie in die vis intrek. Maak seker dat die pan baie warm is. Plaas die vis in die pan en verlaag die hitte na medium. Moenie die vis omdraai voordat dit geseël het nie, anders plak die vel vas. Moet verkieslik nie aan die vis karring nie.

Oondrooster

Hetsy jy bevrore of vars vis gaarmaak, oondrooster is ’n maklike metode. Smeer olyfolie oor die vis voordat jy dit op die bakplaat of in die oondpan plaas. Om te voorkom dat die vis aan die bakplaat of rak vassit, kan jy dit op foelie plaas. As dit ’n dun is, hoef jy dit nie halfpad deur om te draai nie. Laai ons maklike resepte vir vis en ander geregte af en onthou om elke Saterdag of Sondagoggend Ontbytsake vir smullekker resepte en kookwenke te kyk.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2018 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site