By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Geniet Besonderse Vakansieverblyf in Suid-Afrika

Dit is byna weer feestyd en as jy nog nie vakansieverblyf bespreek het nie, sal jy gou moet spring, want die meeste plekke is reeds vol bespreek. Die goeie nuus is dat ons dit vir jou baie maklik maak om goeie gehalte vakansieverblyf in Suid-Afrika op te spoor. Loer ’n bietjie in vroegoggende op Saterdae en Sondae by Ontbytsake wanneer ons alles vanaf landbousake tot sportnuus bespreek, lekker resepte deel en ook vakansieverblyf in Suid-Afrika bekendstel. As jy egter dadelik ‘n plek wil bespreek, lees hieronder oor enkele van die baie gewilde vakansieverblyf wat tans in Suid-Afrika beskikbaar is. Jy kan ook onder die “Reis & Verblyf”-afdeling (onder die “Sakegemeenskap”-oortjie op ons webblad) soek vir ander bekostigbare, luukse of gesins-vakansieverblyf.

Assegaaibosch Country Lodge

Net buite Kareedouw is ‘n historiese en baie sjarmante herberg genaamd Assegaaibosch Country Lodge. Assegaaibosch se geskiedenis dateer terug na 1866, wat die gebou selfs ouer as Kareedouw maak. Dit is ‘n oase van rustigheid waar jy uitstekende persoonlike diens kan verwag. Luukse en ruim kamers, kos uit die boonste rakke, inheemse natuurskoon en klassieke sjarme maak van Assegaaibosch die aangewese bestemming vir mense wat verblyf ver van die geraas en gewoel van duisende vakansiegangers soek. As jy deur die Kaap reis op die R62, is hierdie die soort verblyf wat jy bo-aan jou lys wil plaas.

Life & Leisure

Vir luukse gastehuisverblyf op die voorstoep van Kaapstad, beveel ons Life & Leisure aan. Die gastehuis te Stellenbosch bied ‘n verskeidenheid van verblyfkeuses. Jy kan in een van die 22 selfsorgeenhede tuisgaan of jy kan die familie-eenheid met drie kamers bespreek. Jy kan ook een van die enkelwoonstelle of van die een- of tweeslaapkamerwoonstelle bespreek, of andersins jou verblyf bespreek in een van sewe en-suite-kamers. Die gastehuis is binne loopafstand van Stellenbosch se middedorp.

The Fairview Hotel & Village

Beplan jy om die Krugerwildtuin te besoek? Indien wel, bespreek jou verblyf by die pragtige hotel net buite Tzaneen op die R71 na die Phalaborwa-ingang van die Nasionale Krugerwildtuin. Dit is ‘n 4-sterhotel met ‘n 5-ster-spa. ‘n Verskeidenheid van verblyfkeuses is hier beskikbaar. Daarby bied die hotel bied ook vakansiehuisies, ‘n kroegstoep en restaurant en dit alles met die wonderlike ligging op die oewer van die Letabarivier.

Turnberry Boetiekhotel

Vir ‘n vakansie in die Karoo, of selfs net as oornagverblyf op jou reis na Kaapstad, bespreek verblyf by die 4-ster Turnberry Boetiekhotel in Oudtshoorn. Die eienaar van hierdie besonderse hotel, Tertius Bothma, is ‘n groot gholfentoesias. Tertius is ‘n naam wat nie regtig bekendstelling benodig nie en die hotel se naam is ook afkomstig van Tertius se gunsteling-gholfbaan in Skotland. Die hotel spog met verblyf in 22 netjiese kamers wat goed ingerig is. Ontstpanningsgeriewe sluit ‘n sprankelende swembad en intieme taverne in.

The Fig Tree House

Vir rustige verblyf in die natuurskoon, probeer Krokodilpoort Natuurreservaat net sowat 35 km van Nelspruit af, en bespreek verblyf by die eiesoortige “The Fig Tree House”. Waar anders in Suid-Afrika sal jy in ‘n regte Afrika-boomhuis kan tuisgaan? Jy is ook welkom om jou eie fiets te bring en sal die rustigheid van die wandelroetes waardeer.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2018 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site