By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Maklike Resepte Vir ’n Onbeholpe of Onervare Kok

Is jy iemand wat liewer die gras sny of die wasgoed of skottelgoed was as om te begin dink aan aandete maak, wat nog van ’n smaaklike bord kos voorsit? Jy en baie ander het dit in gemeen, want die laaste ding wat jy ná ’n lang dag by die werk wil doen is voor ’n pruttende pot staan en swoeg.

Moenie dat dit jou te veel kwel nie, want daar is baie maklike resepte wat vinnig aanmekaargeslaan kan word en ook heerlik smaak. Hier is ’n paar wenke wat koskook jou nuwe gunstelingtaak in die huis gaan maak.

Voorbereiding Kraai Koning

Elke sjef sal vir jou sê die belangrikste deel van kook is die voorbereiding. Dit verg meeste van die werk, maar as dit eers verby is, sal die res seepglad verloop. Dink aan die week se disse voordat jy begin. Indien jy bestanddele moet opsny, kap sommer die res van die week se bestanddele ook, dan is dit gedoen.

Speel Met Kleure en Geure

Dit is ongelooflik maklik om jou bord kos van vleis, rys en aartappels te verander in ’n gourmet-aandete. Al wat jy in gedagte moet hou is om verskillende kleure op jou bord te sit en te speel met geurkombinasies. Beetslaai lyk heerlik met ’n bietjie fetakaas oorgekrummel of selfs botterskorsie, basiliekruit en neute.

Vervang rys met koes-koes en voeg granaatpitte by vir kleur en smaak. ’n Bietjie paprika en neutmuskaat oor jou blomkool is ’n uitstekende idee en suurlemoensap en platblaarpietersielie verrig wondere saam met enige proteïne. Hierdie maklike resepte en wenke sal elke familielid ’n tweede bord laat skep.

Tekstuur vir die Tong

Net soos jy met kleure en geure speel, moet jy met verskillende teksture ook eksperimenteer. Maak seker daar is altyd ’n romerig bestanddeel soos ’n sous of puree, iets krakerig soos neute of iets brosgebraai op jou bord. Dink aan disse soos gebraaide spek of croutons in ’n slaai, of ’n lekker gebraaide hoendervelletjie.

Vele Hande Maak Ligte Werk

Jy hoef natuurlik nie al die kookwerk alleen te doen nie. Kry jou maat of kleingoed om saam met jou maklike resepte in die kombuis uit te probeer. Só kan julle nie net meer tyd saam spandeer nie, maar ook ’n lekker bord kos voorberei. Dit is baie lekkerder om saam as alleen te staan en kosmaak.

Ontbytsake het maklike resepte wat van elke onbeholpe kok ’n meestersjef kan maak. Skakel weekliks in om ons geurige resepte te sien wat jou maklik agter die kospotte sal kry.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2019 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site