By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Hoekom Tim du Plessis se Insig so Waardevol is


Tim du Plessis is ’n legendariese naam in Suid-Afrikaanse nuuskringe. Praat met enige journalis en hulle sal vir jou kan vertel dat Tim du Plessis die man is wat al aan die stuur van elkeen van Media24 se Afrikaanse koerante in die land was. Hy het die rolpers in 2014 verlaat en is nou die kundige wat die nuus en aktuele inhoud van programme by KykNet bestuur.

As iemand wat daar was in die dae van P.W. Botha, asook met die 1994-verkiesing en die aanvangsjare van die politieke gebeure onder die nuwe beding – en ook nog in die koerantwese was – het Tim du Plessis die nodige ervaring om waardevolle kommentaar te kan lewer oor al hierdie aangeleenthede. Dit is hierdie man wat ook by Ontbytsake die politieke en ekonomiese sake van die dag saam met Dawie Roodt bespreek. Wie beter as Tim du Plessis om oorsigte te bied, vrae te stel wat ander te bang is om te vra en boonop antwoorde te gee waar ander lankal reeds tou opgegooi het?

Tim was nog op skool toe die joernalistiekgogga hom gebyt het. Dit het alles in standerd agt begin toe ’n onderwyser een van sy opstelle tot sy konsternasie in die klas voorgelees het. Tot op daardie oomblik het hy ook maar soos baie ander sy werk afgerammel. Dit sou die laaste keer wees. Hy het van daardie dag af baie aandag aan die taalgebruik en -versorging van sy werk gegee.

Tim du Plessis behaal in 1976 sy BA-graad in Kommunikasieleer aan die Randse Afrikaanse Universiteit en in 1978 sy honneursgraad in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy is in sy eerste pos by Beeld aangestel en het as nuusverslaggewer gewerk. Sy voorliefde vir politiek het hom egter genoop om van rigting te verander en van 1981 tot 1989 sou hy politieke korrespondent by Beeld wees. As iemand wat daarvan hou om te leer het hy sy Nieman Fellowship aan die Universiteit van Harvard in Amerika voltooi. Hy het ook gedurende hierdie tyd ’n groot voorstander van mediaonafhanklikheid geword.

Die naam Tim du Plessis is ook welbekend by die Engelse koerante City Press en The Citizen. Hy was adjunkredakteur en redakteur onderskeidelik by hierdie twee koerante voordat hy terug is na die Afrikaanse pers in 2001 toe hy as redakteur van die Rapport aangestel is. Hy was weer tuis! Hy was aan die stuur van Rapport tot 2009, toe hy as redakteur van Beeld aangestel is. Dit is opgevolg met sy posisie as Hoof van Afrikaanse Koerante by Media24 in 2011.

Met ’n joernalistieke loopbaan wat reeds in 1976 begin het, is Tim du Plessis ’n naam wat geen bekendstelling nodig het nie. Hy is ’n vername en gerespekteerde kundige wat ook deel van die Ontbytsake-span is. Dus kan jy verseker wees dat die insig wat gedeel word geloofwaardig is. Sy aanbiedingswyse sorg dat kykers vasgenael voor die kassie bly sit.

Maak gerus tyd om elke Saterdag Ontbytsake te kyk en te hoor wat Tim du Plessis oor al die nuutste politieke verwikkelinge te sê het.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2019 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site