By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Maklike Resepte en Wenke vir die Nuweling in die Kombuis

Nie almal het die voorreg om van jongs af ’n bobaaskok te wees nie. Miskien is jy iemand wat die kookkuns maar altyd van ver bewonder het, maar nog nooit self agter die kospotte ingeskuif het nie. Of jy was tot dusver ’n student en het maar gewoonlik naweke by jou ouerhuis geëet en gedurende die week wegneemetes of kitskos geniet. Daardie dae is verby en nou is jy op soek na maklike resepte om familie en vriende te beïndruk sonder om ure agter die stoof deur te bring.

Jy het dalk nog nooit eers oorweeg om ‘n kaaskoek te maak nie. Dit het bloot te ingewikkeld gelyk. Gelukkig verstaan ons. By Maak ’n Hap weet ons dat jong werkende mense maar min tyd het. Tussendeur die werk, vergaderings, kuier saam met die familie, kunsklasse, en gimnasium moet hul nog eet ook. Dis waar ons maklike resepte nou regtig handig te pas kom. As jy in ’n soortgelyke groep val, sal jy bly wees om te hoor dat ons weekliks resepte deel. Sommige van die geregte is baie maklik om voor te berei en steeds watertandlekker.

Vat nou maar die yskaskaaskoek. Jy hoef nie eers die stoof aan te skakel nie en die lekker tert het maar enkele bestanddele, soos kondensmelk, roomkaas, ’n pakkie koekies, ’n pakkie pynappel- of aarbeijellie, aarbeistroop en botter. Ons maklike resepte bevat bestanddele wat heel moontlik reeds in jou kruidenierskas of yskas is.

Met eenvoudige stappe, duidelike instruksies en uitvoerige wenke en bestanddeellyste maak ons dit maklik om soos ’n wafferse bobaasbakker of -kok smullekker geregte voor te berei. Hierdie reeks is só opgestel dat selfs ’n leek in die kombuis dit kan volg.

Met weeklikse inspirasie soos die onlangse skaaptjops en Turkse lekkers, sal jy nooit weer hoef te wonder wat jy kan voorsit nie. Jy sal ’n hele reeks onder die Maak ’n Hap-afdeling van ons webwerf vind, kompleet met fotos vir inspirasie. Natuurlik is daar ook Ontbytsake se Maak ’n Hap-insetsel op TV om na uit te sien. Dink net hoe lekker die groen-en-goud pasta met blitsgebraaide calamari smaak en as jy boonop ’n demonstrasie van die voorbereiding kan sien, is dit al wat jy nodig het om elke oomblik van kosmaak te geniet.

Hetsy jy alleen woon en net vir een moet kosmaak en of jy ’n groot gesin wil bederf, ons maklike resepte is almal wenners. Loer gerus na die vele wenke onder die webwerf se Maak ’n Hap-afdeling as jy sommer dadelik wil wegspring met die voorbereiding van ’n heerlike gereg.

Terug na Artikels

Copyright © Ontbytsake 2019 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site