Dawie
Roodt is die aanbieder van Sakefokus en met goeie rede. Hy het bykans geen
bekendstelling nodig nie. Min mense ken hom by sy volle name van Dawid Daniel
Roodt, maar as Dawie is hy alombekend vir sy insiggewende oorsigte van die
ekonomie.
Hy
is die hoofekonom van Efficient Group Ltd en is ook die voorsitter van
Efficient Financial Services (Pty) Ltd. Hy beklee die posisie van Uitvoerende
Direkteur van Efficient Group Ltd reeds sedert November 2006 en is landswyd
bekend vir sy kundigheid aangaande regeringsfinansies en monetêre beleid. Hy
het ‘n uitgebreide netwerk van ekonomiese kundiges in sy kennisgroep en deel
graag sy mening oor sake van die dag.
Dawie
was baie lank as ekonoom by die Suid-Afrikaanse Reserwe Bank werksaam voordat
hy die ekonomiese redakteur van een van die vooraanstaande finansiële
tydskrifte in Suid-Afrika geword het. Hy is bekend vir sy goeie publieke
sprekervaardighede en het reeds meer as ‘n duisend kassie en radio programme aangebied. Hy is ook
goed gekwalifiseerd met ‘n Meestersgraad
in Ekonomie wat hy met lof verkry het.
Sy
eerste boek oor belastingaangeleenthede is in 2013 gepubliseer onder die titel
van “Tax, Lies and Red Tape” wat ‘n tong in die kies kykie aangaande die ekonomie
van die land gebied het. Sy ekonomiese ervaring strek oor twee dekades en sluit
ook die nege jaar as ekonoom by die Reserwe Bank in.
Daar
word soms spottenderwys na sy studies in kommunisme verwys alhoewel hy erken
het dat hy beslis nie ‘n Marxis is nie. Hy beskik oor besonderse analitiese
vaardighede en is ook bekend vir sy bogemiddelde kommunikasie vaardighede. Sy
gemaklike styl maak dit vir hom moontlik om ingewikkelde ekonomiese begrippe
vir almal meer verstaanbaar te maak. Hy is ook inderdaad die ekonoom in
Suid-Afrika wat al die meeste kere in die media aangehaal is. Asof Dawie Roodt
nie alreeds genoeg hooi op sy vurk het nie, is hy ook ‘n MBA dosent en aanbieder
van makro-ekonomie as vak by die Universiteit van Pretoria se Gordon Instituut
van Besigheidstudies.
Hy
is beslis nie ‘n vervelige mens nie en dit kan toegeskryf word aan sy
gebalanseerde lewenstyl en wye belangstellingsveld. Sy grootste passie anders
as ekonomie lê by die natuur. Hy hou van rondreis en is ook betrokke by verskeie welsynsorganisies.
As Dawie nie op kantoor is nie sal jy hom of onder die water vind waar hy duik
of in die lug besig met die gemotoriseerde valskermsport waarin hy Suid-Afrika
by die Wêreldkampioenskap toernooi in Sjina verteenwoordig het. Hy is ook ‘n
goeie skut en hou homself ook so nou en dan met die bestudering van vissoorte besig.
So dan en wan kan jy hom ook op sy motorfiets te siene kry.
Dit
alles beteken egter nie dat Dawie nie ‘n gesinslewe het nie. Hy is met Marina
getroud en hulle het vier pragtige dogters en ‘n ewe slim seun. Die jongste twee dogters is tweelinge en dus
het Dawie en Marina ook ‘n vol gesinslewe. Hulle bly op ‘n kleinhoewe te
Pretoria waar die gesin hulle liefde vir die natuur en diere ten volle uitleef.
Dit is hierdie Dawie Roodt wat ook ons gunsteling sakefokus aanbieder is
Terug na Artikels