Partytjiebord met Lamsvleis
Teegerookte Lamsham:
Bestanddele:
1 x Lamsblad
125 ml sagte bruin suiker
3 E fyn sout
Rookgoed:
2 sakkies elk Rooibostee en Swart tee,
2 eetlepels rou ryskorrels,
3 eetlepels bruinsuiker,
1 kaneelstokkie,
gebreek,
1 teelepel koljandersade
Metode:
Smeer die blad goed met ‘n mengsel van die sout en bruinsuiker, plaas dit in 'n digsluitende plastiekbak en laat vir ten minste 48 uur in die yskas, draai ten minste 4 keer om want hy vorm ‘n oplossing waarin hy later lê.
Berei ‘n rookpan voor deur die tee, ryskorrels, kaneel, koljander en suiker op die bodem van ‘n swart oondroosterpan te sprinkel. Verhit jou oond se onderste element tot hoogste verhitting, 230 grade Celcius en plaas die rookpan heel onder in die oond en die oondrak in die middel.
Vee die lamsblad af en maak hom redelik droog met 'n vadoek of kombuispapier. Plaas dan die blad op die oondrak, bo-oor die rookpan in posisie.
Maak die oonddeur toe en moenie weer oopmaak nie. Wanneer die rookgoed begin smeul, neem tyd en hou die oond op hoog vir nog 15 minute en bring dit dan af na 110 Grade. Laat die vleis nog 40 minute so bly en skakel dan die oond af, maar moet nog nie oopmaak nie. Haal die vleis eers so 'n halfuur later uit. Maak toe met kleefplastiek en verkoel. Bedien in dun skywe saam met mosterd of uie- of olyfkonfyt.
Bobotie-frikkadelle:
Bestanddele:
600 g lamsmaalvleis
1 ui, fyn gekap
2 t kerriepoeier
2 E appelkooskonfyt
2 t sout
100 g pitlose rosyntjies
100 g Amandelvlokkies
2 eiers plus 1 koppie melk en 2 t kerriepoeier vir die eiervla
suurlemoenblare en piesang vir garnering
Metode:
Meng die gekapte ui en al die speserye saam met rosyne en amandels met die vleis. Knie dit goed vir ten minste 4 tot 5 minute. Verdeel die vleis in die helfte en elke helfte dan in 3 dele. Verdeel weer elke stuk in 2 dan kan jy 12 Frikkadelle rol. Druk met jou vinger ‘n diep holtetjie in elke frikkadel en maak hulle staan in ‘n oonpan. Giet van die eiervla in elke gaatjie en druk ‘n suurlemoenblaar in elke holte. Giet ongeveer 1 koppie water om die frikkadelle in die pan. Ek hou ook daarvan om ‘n bietjie Willow Creek Suurlemoen gegeurde Olyfolie rondom en bo-oor te spat, vir ekstra geur. Bak hulle in die oond op 180 grade tot goudbruin. (Hulle gaan eers bietjie stoom, totdat die water opraak en dan sal hulle bruin bak.) Garneer elk met n dungesnyde piesangskyfie en geroosterde amandel.
Soutribbetjies:
Bestanddele:
1 x geknakte lamsrib - goed gesout, na smaak
Dun doek soos 'n moeseliendoek, asook tou om vas te maak voor ‘n waaier
Metode:
Sout die ribbetjie goed aan beide kante. Hy moet nogal wit van die sout wees. Draai hom goed toe met ‘n teedoek of moeseliendoek en knip vas met wasgoedpennetjies. Hang hom aan ‘n stoel voor ‘n waaier waar die kat of die hond hom nie kan kry nie. Draai nou en dan die ander kant na die waaier. Hy kan oornag so hang.
Plaas die rib op ‘n roosterrak in ‘n oondpan en braai bros so by 180 grade vir 30-40 minute.
Skenkelpastei:
Bestanddele:
1 x kleinerige skenkel per persoon, besprinkel met koekmeelblom en sout
1 groot geelwortel, gerasper
4 heel kruienaeltjies
1 groot ui, grof gekap
2 tamaties, grof gekap
2 takkies roosmaryn en ‘n bossie vars tiemie, aanmekaar vas as bouquet garni
1 koppie witwyn, 1 koppie water, 1 koevertjie tamatiepasta (opsioneel)
Krummel: 1 1/2 k Koekmeel, 1 E Ina Paarman Roosmarynsout, 1 takkie vars roosmaryn, gestroop en gekap, 80 ml Willow Creek olyfolie (koud)
Metode:
Verbruin die vleis alkante in ‘n swaarboomkastrol met olyfolie. Sit die voorbereide groente by (tamaties, ui, wortel). Jy kan ‘n bietjie knoffel bysit as jy wil. Sit die kruienaeltjies en die kruiebossie by. Meng die tamatiepasta met die wyn en die water as jy dit gebruik. Giet die wynmengsel oor en plaas die deksel op die kastrol. Stowe op lae hitte amper die hele dag. Maak weer nat met bietjie water en bietjie wyn elke keer as dit naby droogkook kom. Wanneer die vleis baie sag en die groente ‘n dik sous gevorm het, kan jy die skenkels staanmaak in ‘n oop pasteibak. Skep die groente en sous oor die skenkels. Vryf die koekmeel, saam met die kruiesout, fyngekapte roosmaryn en die koue olyfolie met jou vingerpunte tot dit soos growwe broodkrummels lyk. Pak dit versigtig bo-op die skenkels en bak dit oop vir ongeveer 40 minute in 'n 180 grade oond.
Lamstertjies:
Bestanddele:
6 tot 10 Lamstertjies
Een groot geelwortel
Een groot ui
Knoffel na smaak
4 kruienaeltjies
Sout
Metode:
Plaas die stertjies in ‘n drukkoker, saam met die geelwortel, kruienaeltjies, ui en sout. Bedek met koue water. Stoom vir 40 minute. Verwyder die stertjies uit die aftreksel en plaas in ‘n roosterpan. Sprinkel goed met soutvlokkies en bietjie wit peper. Bak tot bros, by 190 tot 200 grade, seker so 20 minute.