Varkvleis Schnitzels met Suurlemoenbottersous en Vinkel-en-Appelslaai
Bestanddele:
Vir die Schnitzels:
4 - 8 mediumgroot varknektjops
125 ml koekmeel
2 eiers, liggies geklits
250 ml fyn droë broodkrummels
100 ml fyn Parmesaankaas of Peccorino-kaas
Sout en Peper
Botter en olyfolie vir braai (Willow Creek Parmesaangeur olyfolie vir ekstra geur)
Vir die Bottersous:
100 g botter
15 ml suurlemoensap
5 ml suurlemoenskil (opsioneel)
Of
15 ml suurlemoengeur botter
Vir die Vinkel-en-Appelslaai:
1 jong vinkelknol
2 groen appels
1 klein bossie platblaar-pietersielie
3 E rou amandels, grof gekap
3 E dennesade (opsioneel)
50 ml Willow Creek Granaatgeur Balsemiekasyn
50 ml Willow Creek Ekstra suiwer olyfolie of Suurlemoengeur olyfolie
Vir die Komkommerpiekels:
2 - 3 klein komkommers, grof gekap
250 ml witwynasyn
Knippie piekelkruie
5 ml suiker
Metode:
Vir die Schnitzels:
Ontbeen die nektjops en slaan hul versigtig so dun as moontlik uit met ‘n vleishamertjie. Geur met sout en peper. Meng die kaas en broodkrummels met vingerpunte en plaas dit ook in ‘n mengbak of sopbord. Bedek die vleis goed alkante met koekmeel, doop dan in die eier, drup af en bedek dit alkante met die krummelmengsel. Verhit ‘n goeie braaipan met ‘n mengsel van botter en olyfolie tot mediumwarm. Braai die schnitzels versigtig goudbruin. Laat rus hulle in die oond op 150 grade.
Maak suurlemoenbotter deur die botter te smelt en te meng met die suurlemoensap en skil. Hou eenkant tot bediening.
Vir die Vinkel-en-Appelslaai:
Sny die vinkel in so dun as moontlik skyfies. Sny die appels in dobbelsteenjies. Snipper die pietersielie bo-oor die appel en vinkelstukkies. Meng alles goed met die neute en sade en laastens met die asyn en olyfolie.
Vir die Komkommerpiekels:
Maak die piekel deur die asyn saam met die piekelspeserye en suiker vinnig op te warm en die komkommerstukkies alles gelyk daarin te gooi. Verwyder dadelik van die hitte en laat staan om koud te word.
Bedien deur die schnitzels op opdienborde te rangskik met suurlemoenbottersous en 'n stapeltjie slaai bo-op. Sprinkel laastens met komkommerpiekels.