By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Bees-kortrib & Tamatiesmoor-Bredie met Blomkoolrys

Bees-kortrib & Tamatiesmoor-Bredie met Blomkoolrys

Oond / Stoof Temperatuur: Hoë hitte
Aantal Porsies: 6 mense

Bestanddele:
1 kg Bees Kortrib 
1 kg ryp tamaties
2 groot uie
1 rooi soetrissie
1 groen soetrissie
1 geel soetrissie
125 ml vars pietersielie, opgekap
20 ml suurlemoensap
30 ml bruin suiker
Olyfolie
Pietersielie vir garnering
3-4 Aartappels sag, gekook
2-3 Wortels, sag gekook
3-4 Murgpampoentjies, sag gekook

Blomkool en 2 eetlepels botter

Metode:
Kap die uie en soetrissies fyn en gooi in ‘n braaipan met olyfolie vir bruin braai.  

Sny die tamaties in blokkies en voeg dit en die pietersielie by die uie-mengel. Voeg sout, peper, suiker en suurlemoensap by. Laat prut op lae hitte vir ongeveer 30 minute tot ‘n dik smoor. 

Sny die vleis in groterige blokke. Plaas in ‘n oondbak met die tamatiesmoor bo-oor en sout en peper na smaak. Laat bak in die oond vir 2 tot 3 ure. Hou dop vir vog en gooi water by indien nodig.  

Voeg die groente vyftien minute voor die vleis klaar is by en roer deur. 

Voeg pietersielie bo-oor vir garnering.

Vir Blomkoolrys:
Kap die blomkool fyn, voeg 3 eetlepels botter in ‘n pan, saam met sout en peper en braai tot gaar, maar steeds krakerig. 

Skaapboud met Aartappels, Groenbone en Wortels

Skaapboud met Aartappels, Groenbone en Wortels

Oond / Stoof Temperatuur: 180 grade
Aantal Porsies: 6-8 mense

Bestanddele: 
100 ml Mayonaise
100 ml Blatjang
50 ml Worcestersous
30 ml suurlemoensap
1 t growwe swartpeper
1 t sout
1 t vars fyngekapte roosmaryn.

As die boud groot is, kan jy die hoeveelhede vermeerder in verhouding. Meng goed saam en smeer die mengsel reg rondom die boud en plaas in oondskottel.

Kap 2 uie fyn
2 klein groenappels of 1 grootte in blokkies gesny
3 wortels in skywe gesny

Gooi alles rondom boud.

50 ml appelsap
100 ml sterk rooibostee
Gooi rondom die boud
 
Metode: 
Plaas deksel op oondskottel en sit die boud in die oond teen 200 grade vir die eerste half uur, draai oond dan af na 180 grade vir verdere 1 en half uur. 

Haal uit, draai boud om en plaas die Aartappel-kwarte in lengtes gesny al om die boud. Vul vog aan met rooibostee soos nodig. Soms maak boud self vog, moenie dat vog in pan te veel of te min raak nie. Aartappels moet half in vog lê. Bak nou verder vir nog 1uur teen 180 grade. Draai boud terug op sy oorspronklike kant en draai aartappels versigtig om.  Na 4 ure behoort die boud gaar te wees.  

Indien jou boud en aartappels nog nie verbruin het nie, kort dit nog 'n uur in die oond. Hierdie is die “Slow Cook” metode. Beheer die tyd en vog na gelang van jou oond se hitte. Eintlik word hierdie lamsboud of skaapboud net op sy eie gaar en verbruin self tot perfeksie. Meestal het die boud nie nodig om onder oondrooster gesit te word nie, maar dit kan gedoen word wanneer nodig vir bros-verbruining. 

Verpulp die sous in die oondpan. 

Skil en blansjeer die groenbone en wortels en braai net in ‘n bietjie botter saam met die Dukkah om die geurigheid te kry.

Gerookte Varknekrol met Aspersies en Camembert Filo-Pakkie

Gerookte Varknekrol met Aspersies en Camembert Filo-Pakkie

Oond / Stoof Temperatuur: 180 grade
Aantal Porsies: 6-8 mense
Wenk: Jy kan aspersies vervang met enige ander groen groente
Bestanddele:  
1 Ontbeende Varknekrol
125 ml witwyn 
1 k rooibostee
2 E sojasous
1 groot groen appel,  gerasper
1 E gerasperde gemmer
80 ml gekapte pynappel 
1 E heuning
Swartpeper na smaak

Aspersies
Filodeeg
First Choice Camembert kaas
Botter

Metode: 
Plaas die varknekrol in ‘n oondpan. Voeg die rooibostee, wyn, sojasous, gerasperde appel en pynappel binne in die oondbak en maak toe met deksel. Bak teen 180 grade vir ongeveer een en ‘n half uur, afhangend van die grootte van jou varknekrol. Hou die vloeistof dop en indien dit te min is, voeg nog rooibostee of water by. Net voor die varknekrol uit die oond gehaal word, gooi die heuning oor en laat bietjie rooster vir kleur. Laat rus die vleis en sny dan in dik skywe vir opdiening. 

Neem die filo-velletjies en sny in vierkante. Verf gesmelte botter aan die buitekante van die filo-blaardeeg. Plaas ‘n stuk camembert-kaas wat in blokkies gesny is, in elk van die vierkante van die filodeeg. Vou die filodeeg en plaas in ‘n kolwyntjiepan. Bak in die oond vir ongeveer 5-8 min teen 180 grade. Hou dit dop, aangesien dit maklik kan brand. 

Vir die aspersies blansjeer net vir ‘n paar minute en gooi die water af. Braai dan vinnig in botter en swartpeper vir geur. 

Dien dan die elemente op soos verkies.

Tamatie-basis Pasta met Hoender

Tamatie-basis Pasta met Hoender

Oond / Stoof Temperatuur: Hoë hitte
Aantal Porsies: 6  mense

Bestanddele:  
500 g Penne Pasta 
2 groot pakkies kersie- of rosa-tamaties
1 groot ui, fyn gekap
60 ml tamatiesous of pakkie tamatie-puree
30 ml soet rissiesous
1 E suiker
Sout en swartpeper na smaak
1 t origanum
1 E balsamiese asyn of suurlemoensap
180 ml water
4 hoenderfilette 
Handvol basieliekruid-blare

Garnering:
1 pakkie rosa-tamaties
2 wiele fetakaas
Olyfolie
Het Vlock Kasteel Olywe 

Metode: 
Kook jou pasta tot sag en gaar. Spoel af met water en voeg botter, olyfolie en sout na smaak by. Hou eenkant tot opdiening.

Plaas die feta, tamatie met swart peper en olyfolie op ‘n bakplaat in die oond op 200 grade vir 20 min sodat dit rooster. Sodra dit gaar is, hou eenkant tot opdiening. 

Braai die uie in ‘n pan tot gaar en voeg die klein tamaties by, roer vinnig en gooi al die ander bestanddele, soos die tamatiesous, soetrissie-sous, suiker, origanum, balsamiese asyn, sout en peper asook die water by. Laat prut vir ongeveer 8-10 min of tot dit ‘n lekker dik sous vorm.

In ‘n ander pan word die hoender gaargemaak, gooi olyfolie, sout en peper vooraf oor die opgesnyde blokkies hoender en braai in pan tot gaar. Hou eenkant tot opdiening. 

Gooi nou die tamatiepasta-sous by die penne pasta en meng deur. Gooi laastens die basieliekruidblare by.
Jy kan die hoender byvoeg of jy kan dit met opdiening bo-op die pasta plaas.

Vir garnering plaas die geroosterde tamaties en feta met olywe en vars basieliekruid-blaar bo-op die pasta.

Wenk: Jy kan die dis as eenskottelgereg bedien. Die hoender kan ook met enige ander vleissoort vervang word. 

Sitrus-olyfolie en Roosmaryn-polentakoek met Pistasieneut-versiersel

Sitrus-olyfolie en Roosmaryn-polentakoek met Pistasieneut-versiersel

Oond / Stoof Temperatuur: 170 grade
Aantal Porsies: 8-10 mense
Wenk: Die geheim is in die 3 beslagte wat saam gemeng word, vou alles in met staallepel.
Bestanddele:  
5 eierwitte
150 g strooisuiker
5 eiergele
1 takkie roosmaryn fyn gekap
1 t vanielje-ekstrak
Skil van een suurlemoen
2,5 ml sout
150 ml Het Vlock Casteel olyfolie
65 g koekmeel
80 g polenta
50 g fyn klapper
2,5 ml bakpoeier
100 g vars wit druiwe

Metode: 
Berei 'n 20 cm springvorm pan met bakpapier en kleefsprei voor. Die sukses van hierdie koek lê in die voorbereiding van twee nat beslagte wat met die droë bestanddele gekombineer word. 

Klits die eierwitte met die helfte van die strooisuiker (75 g) tot stywe punte en sit eenkant.

Klits die eiergele saam met die gekapte roosmaryn, suiker, vanielje, suurlemoenskil en sout.

Klits die olyfolie in 'n stadig en bestendige stroom by die eiergeelmengsel - dit moet lig en donsig wees. Vou die eierwitte en geel olyfolie saggies saam met die nat mengsel daarin.

Sif die meel, polenta, klapper en bakpoeier oor die nat beslag en vou saggies by die mengsel in.

Skep die mengsel in die voorbereide bakvorm en druk die wit druiwe saggies in die beslag (opsioneel).

Bak by 170 grade vir 30-35 minute, haal dit uit en laat afkoel.

Pistasieneut-versiersel:
Meng 250 g versiersuiker met 25 ml olyfolie en vir die res bietjie vir bietjie warm water to effens loperig. Giet saggies oor die koek en versier met 'n koppie gekapte pistasieneute. 

Biltong-pasta

Biltong-pasta

Aantal Porsies: 4-6  mense

Bestanddele:
500 g  Gekerfde Biltong 
Vars gerasperde Parmesaan of verouderde kaas
500 g Penne Pasta
Sout en Peper na smaak
1 Medium ui
1 Pakkie Bruin sampioene
1-2 knoffelhuisies
Botter en olyfolie
2 E biltongpoeier 
2 E botter 
1 blokkie beesaftreksel 
1 k kookwater
250 ml room 
1 botterskorsie in blokkies gesny en sag gekook
1 pakkie repiespek 
Groot pietersielieblare

Metode:
Kook die pasta tot sag en gaar. Spoel met water af en voeg botter, olyfolie en sout na smaak by. Hou eenkant tot opdiening.

Plaas die botterskorsie blokkies op ‘n bakplaat saam met die gekapte repiespek. Sprinkel met olyfolie en bak in die oond teen 200 grade Celcius vir sowat 20 min tot dit goed gerooster is. Verwyder uit die oond en hou eenkant tot opdiening. 

Braai uie, knoffel en sampioene in ‘n pan, skep uit en hou eenkant.  Gooi die room en beesaftreksel in dieselfde pan saam met die biltongpoeier, sout en peper en laat kook vir ‘n paar minute. Voeg nou die uie en sampioene terug en gooi ook die biltongstukke in die roomsous-mengsel.

Vir opdiening, skep pasta in bord en dan jou biltong- en roomsous  oor. Die botterskorsie, spek en pietersiele word gebruik vir garnering. 

Jy kan die dis in een skottel of bak opdien. 

Frikkadelle en Patats

Frikkadelle en Patats

Aantal Porsies: 4-6  mense
Wenk: Die Frikkadelle kan ook in burgers gebruik word. 
Bestanddele:  
500 g Beesmaalvleis
1 blokkie Weetbix 
¼ K beesaftreksel
1 eier 
1 E Worcestersous
1 groot ui gerasper
Sout en peper na smaak
1 E First Choice Smeerkaas
 Olyfolie vir braai
Patats
Botter 
Klein spinasieblare

Vir die kruie-slaaisous:
2 E rooi- of witasyn
1 knoffelhuisie
½ K olie
1 t Dijon-mosterd
1 t heuning
3 verskillende vars kruie (Kruisement, Koljander, Italiaanse pietersielie)
Sout en peper na smaak

Metode: 
Laat week die Weetbix in die beesaftreksel. Meng die eier, worcestersous, sout, peper en gerasperde ui in ‘n groot mengbak. Voeg die maalvleis en sagte weetbix by en meng goed. 

Neem ‘n maatkoppie en vorm die frikkadelle met jou hande. Braai die frikkadelle tot gaar in die pan. 

Sny die vars kruie en knoffiel in fyn stukkies en meng al die bestanddele in ‘n bak. 

Die patats kan jy skil, opkap en kook tot sag. Gooi ongeveer twee eetlepels botter en sout oor vir smaak. 

Met opdiening plaas die spinasieblare, patats onder en plaas die frikkadel bo-op. Bedruip met kruiesous.  
Copyright © Ontbytsake 2021 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site