By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Arancini - Rooiwyn-risotto Rysballetjies met Ryk Kaassous

Arancini - Rooiwyn-risotto Rysballetjies met Ryk Kaassous

Bestanddele:
1 k Arborio-rys
1 ui, fyngekap
3 E botter of First Choice knoffelbotter
3 E Willow Creek Olyfolie
1 k rooiwyn
3 k sterk hoenderaftreksel
50 g Peccorinokaas, gerasper
1 First Choice Baby Gouda met rissie
2 repies ontbytspek, fyn gesnipper en bros gebraai
1 eier, in 'n bakkie gebreek en effens geklits
150 ml gedroogde broodkrummels
150 ml olyfolie of kookolie
2 E botter
1 k First Choice gerasperde Cheddarkaas
250 ml First Choice Langlewe room

Metode:
Braai die ui in die olyfolie en botter liggies oor matige hitte in 'n swaarboompan. Voeg die Arborio-rys daarby. Roer goed, sodat die korrels goed bedek is en liggies begin braai. Wanneer die korrels aan die punte begin deursigtig raak, kan jy die helfte van die wyn en 1 koppie aftreksel byroer. Hou aan roer totdat die vloeistof byna heeltemal geabsorbeer is. Voeg nou die ander helfte van die wyn en nog 'n koppie aftreksel by. Roer weer aanhoudend liggies rond totdat ook hierdie vloeistof ingeneem is. Roer die laaste koppie aftreksel by. Nou kan jy begin toets of die ryskorrels sag, maar nog effens "neuterig" heel in die middel is. Kookproses neem ongeveer 40 minute. Indien jy voel die rys is nog nie sag genoeg nie, kan jy nog aftreksel of kookwater byvoeg. Roer deurgaans. Die ryskorrels moet nie eintlik stil gaan lê nie. Roer laastens die gerasperde Peccorino deur en laat in die yskas koud word.

Sny van die Baby Gouda sodat jy 16-20 dobbelsteentjies het van ongeveer 1 cm. Neem dan 'n bietjie risotto in jou handpalm en druk 'n kaasblokkie in die middel. Plaas nog n klein bietjie Risotto bo-oor en rol versigtig 'n balletjie van ongeveer gholfbal-grootte. Plaas in die yskas vir 20 minute om stewig te vorm.

Meng die broodkrummels en spek goed in 'n voedselverwerker en gooi dit uit in 'n groterige bord of skotteltjie. Verhit die 150 ml olie en 2 eetlepels botter tot matig warm. Rol elke bolletjie in eier en dan in die spekkrummels. Braai hulle so 4 of 5 tesame mooi goudbruin in die botter en oliemensel.

Vir die kaassous:
Verhit die room tot net onder kookpunt en roer al die gerasperde Cheddar gelyktydig by totdat dit 'n gladde kaassous is.
Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site