By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Dawie Roodt: 20 jaar te laat vir Afrika-geld

deur Dawie Roodt in Rapport 25 Maart 2018

Dawie Roodt: 20 jaar te laat vir Afrika-geld

Die beplande vryhandelsgebied in Afrika is natuurlik ’n goeie idee. Afrika het hopeloos te veel klein landjies wat op hul eie internasionaal probeer meeding. Intussen is Afrika ’n vasteland met ’n reusebevolking wat wonderlike geleenthede bied.

Deur Afrika ekonomies in een magsblok saam te snoer en handel werklik vry te maak van belastings, tariewe, rompslomp en selfs grensposte, sal tot voordeel van alle lande in Afrika wees – amper iets soos die Verenigde State van Afrika.

En die voorstel van pres. Cyril Ramaphosa dat Afrika sy eie geldeenheid kry, is ook ’n goeie idee – maar dis moontlik hopeloos te laat.

Daar is baie voordele in ’n eie geldeenheid vir Afrika. (Tito Mboweni het al voorgestel ons noem dit die afro).

Met ’n gemeenskaplike geldeenheid sal die koste van handel tussen lande baie afneem. Dit sal byvoorbeeld nie nodig wees om rand in Amerikaanse dollar en dan die Amerikaanse dollar in kwacha om te skakel in handel tussen Suid-Afrika en Zambië nie.

Verder is daar ook baie geld te maak uit geld maak. 

Omdat die Amerikaanse dollar oral in Afrika (en in die wêreld) as geld aanvaar word, betaal almal wat die dollar gebruik indirek ’n belasting aan die Amerikaners.

Met ’n eie geldeenheid kan dié winste by ’n Afrika- sentrale bank in Afrika bly.

Maar die sukses van ’n eie geldeenheid vir Afrika sal afhang van die mate waarin ons kan verseker dat die sentrale bank heeltemal onafhanklik sal wees van politieke inmengery.

Daar is ook ’n aantal ander probleme. Byvoorbeeld, aangesien Afrika-lande ekonomies op verskillende vlakke van ontwikkeling en in verskillende groeifases is, sal monetêre beleid (rentekoersbeleid, wisselkoersbeleid ensovoorts) aanvanklik moeilik wees om reg te kry. ’n Spesifieke vlak van rentekoers, byvoorbeeld, kan dalk moontlik vir een land reg wees, maar vir ’n ander heeltemal verkeerd.

Dan is daar nog heelwat ander vrae, soos wie moet verantwoordelik wees vir banktoesighouding, die nuwe sentrale bank of die plaaslike sentrale bank? En, miskien belangriker, indien ’n lidland finansieel in die moeilikheid raak, behoort die Afrika- sentrale bank daardie land te help of nie? 
Dit is terloops die grootste dilemma wat die Europese sentrale bank het. Kyk maar hoe ’n gesukkel dit was om Griekeland van sy finansiële verknorsing te red.

Daarom reken baie ekonome dat die uiteindelike sukses vir die euro (wat moontlik ook op ’n Afrika- geldeenheid van toepassing sal wees) afhang van die politieke integrasie van die streek. Maar politieke integrasie beteken ook dat een land vir ’n ander land se sondes sal moet betaal . . .

Nuwe tegnologie, soos die blokketting, maak dit vir die private sektor vandag baie maklik om self geldeenhede te skep. Hierdie geldeenhede sal met mekaar en met sentralebankgeld meeding en in baie gevalle sal dit sentralebankgeld wees wat aan die kortste ent gaan trek.

Dit sal moontlik beteken dat Afrika nie sy eie geldeenheid moet kry nie, maar eerder moet inskakel by ’n ander ekonomiese blok.

Die hele Afrika maak maar so tussen 2% en 3% van die wêreldekonomie uit – en moontlik sal dit meer sin maak om die euro as geld te gebruik, of selfs die Chinese renminbi.

Hoe ook al, ’n eie geldeenheid is ’n goeie plan vir Afrika. Dis net so 20 jaar te laat.
Copyright © Ontbytsake 2018 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site