By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

Jan Harm se Bietjie Sport

14 Julie 2018

Jan Harm se Bietjie Sport

Die jaar spoed verby en dit is al weer tyd vir die volgende groot gholftoernooi naamlik die Britse Ope. Vanjaar se toernooi by Carnoustie in Skotland is die 147ste uitgawe van die oudste van die 4 sogenaamde 'majors'.

Met totale prysgeld van 10,5 miljoen Amerikaanse dollar en ‘n eerste prys van 1,9 miljoen dollar is daar heelwat rede vir die voorste spelers in die wêreld om mee te ding. En saam met die effense hupstoot vir jou beursie is daar natuurlik al die prestige wat daarmee gepaard gaan om die bekende ‘Claret Jug’ omhoog te hou na Sondag se finale ronde. 

Interessant genoeg was daar geen prysgeld op die spel vir die eerste drie Britse Ope toernooie nie, voordat ‘n groot totaal van 10 Britse pond in 1863 aan die spelers wat 2de, 3de en 4de ge-eindig het, uitgedeel is. Die kampioen moes met die wenner se belt tevrede wees. Ou Tom Morris was in 1964 die eerste kampioen wat prysgeld ontvang het - ‘n allemintige 6 Britse pond.

Dit sal die agste keer wees wat die Britse Ope op Carnoustie plaasvind, wat dit negende plaas op die lys van bane wat gasheer gespeel het vir die jaar se derde ‘major’. Die 'Old Course at St Andrews', wat reeds 29 Ope’s aangebied het, is aan die bopunt van hierdie lys.

Gedurende die eerste eeu van die toernooi se bestaan het Britse spelers meestal koning gekraai, maar sedert die draai van die 21ste eeu kon die Britte nog net twee keer seëvier. In beide gevalle was dit spelers van Noord-Ierland, in die vorm van Darren Clarke en Rory McIlroy, wat die tuisskare aan die skree gekry het.

In dieselfde tydperk was daar drie Suid-Afrikaanse kampioene met Ernie Els wat in 2002 en 2012 gewen het en Louis Oosthuizen wat in 2010 as die 'Champion Golfer of the Year' gekroon is.

Branden Grace hou die rekord vir die laagste ronde in ‘n ‘Major’ na sy uitsonderlike 62 in laasjaar se Ope by Royal Birkdale.

Die aksie skop Donderdag af met ten minste 11 Suid-Afrikaners wat gaan uitdraf op Carnoustie se skoonvelde, insluitend die nuutgekroonde Britse Amateur kampioen Jovan Rebula. 
Copyright © Ontbytsake 2018 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site