By continuing, you are agreeing to our Terms and conditions as well as our Use of Cookies.

ATKV besef demografie is bepalend vir die Taal

30 Julie 2017 op Netwerk24

ATKV besef demografie is bepalend vir die Taal

So ’n klompie jare gelede het wetenskaplikes die draer van die geen uitgewys wat wit Afrikaners ’n verhoogde risiko gee vir hartsiekte. As ek reg onthou, is dit een of ander Hollander wat ons ou genepoeletjie hier kom befoeter het.

Nou moet die genetici net die draer van ons ander nare geen ook uitwys, die een wat wit Afrikaners so voorskriftelik maak. En so onverdráágsaam.

Die afgelope week of wat het dié myne-of-niks nuk hom weer behoorlik laat geld in die lewendige twisgesprek oor die ATKV se Afrikaans Plus-inisiatief.

Die idee van Deidre Le Hanie, die ATKV se nuwe uitvoerende hoof, om nie-Afrikaanssprekendes nóg nader te trek aan die ATKV se bedrywighede, het vinnig spervuur getrek uit die Solidariteit-AfriForum-kamp. Hulle dink dis noodlottig vir Afrikaans omdat, gegewe die ervaring elders waar ook uitgereik is, Afrikaans spoedig deur Engels verdring is.

Dié reaksie het dadelik ’n derde, meer losse groepering, op gang gekry. Hulle is nie formeel saamgesnoer nie; eerder ’n wolk wat vorm wanneer hulle wil reën. En die reënbui is telkens ’n vurige uitstorting van weersin in Solidariteit en AfriForum.

DEMP ’N BIETJIE DAARDIE AFRIKAANSE GEEN VAN VOORSKRIFTELIKHEID, MENSE. VAN JULLE IS NOG LEKKER JONK.

Hulle laat my altyd wonder: As die Solidariteiters so ’n landsbedreiging is, hoekom voeg hulle nie die daad by die woord en kla hulle aan nie? In die hof of by een van die talle forums wat dié soort “wangedrag” reguleer en sensureer?

Dié week vertel daardie Rolls-Royce van demograwe, prof. Flip Smit, my van ’n inskrywing in die dagboek van eerw. Erasmus Smit, die Voortrekkers se prediker, ná een van die Trekkers se vele onderlinge twiste. Môre trek ons verder en álmal trek voor. Want niemand trek mos agter ’n ander een aan nie, het die eerwaarde geskryf. Dis ons daai.

So twee jaar gelede het prof. Flip in ’n artikel uitgewys hoe dramaties die getalle van Suid-Afrika se wit bevolking aan’t afneem is weens emigrasie en ’n dalende geboortekoers. Die wit mense word minder teen ’n tempo van sowat 40 000 per jaar, raam hy vandag. Iets oor die 60% van hulle is Afrikaanssprekend. Bruin, swart en Indiër-Afrikaanspraters word ten beste effens meer of is konstant, maar word nie so ingrypend minder soos die wit mense nie.

So, Le Hanie het kleigetrap met hoe sy Afrikaans Plus onthul het, maar sy het sonder twyfel iets beet oor waar groei vir die taalgemeenskap vandaan moet kom. As ons oor ’n skrale 20 jaar wil hê Afrikaans moet nog bestaan, moet daar genoeg mense wees wat die taal praat en, baie belangrik, binne ’n taalgemeenskap wíl funksioneer. Verreweg die meeste van hulle sal nie wit wees nie.

Dié is ’n demografiese imperatief waarvan die Solidariteit-mense kan kennis neem, as hulle wil. Om ’n reël in daardie liedjie van die Radio Kalahari Orkes van toepassing te maak: Afrikaans . . . “sal honger ly as hy ’n wit man bly”.

Laat die ATKV die toekoms inbeur. So in die stilligheid is hulle hoeka al geruime tyd daarmee besig, onder minstens twee van Le Hanie se voorgangers.

Maar die ATKV moet een ding weet: Hy kan sy skering en inslag verruim solank dit in Afrikaans gebeur. Die oomblik as vrot Engels, Suid-Afrika se nieamptelike 12de taal, die werktaal van die ATKV word, is die dood in die pot. En dis nie ’n voorskrif nie. Dis ’n wet van die taal-oerwoud.

Vriendelike versoek: Kan die deelnemers aan dié gesprekke asseblief ophou om vir veral wit Afrikaners voor te skryf hoe hulle hul belange moet bevorder, tot watter organisasies hulle mag behoort of nie, watter boeke hulle moet lees, of hulle gelowig moet wees of nie, van watter musiek hulle moet hou en wat hul kunssmaak moet wees?

Dié voorskriftelikheid kom uit die 1960’s en ’70’s, toe NP-omies, Broederbonders en dominees by wyse van dekreet verklaar het hoe Afrikaners moet wees en wat hulle moet dink. Ek aanvaar die deelnemers aan die huidige gesprek wil regtig nie só wees nie.

Maar van die stemme wat tans met die volume op hoog uitsaai, besef duidelik nie hoe naby hulle aan dié einste versmorende voorskriftelikheid kom wat Afrikaans in die apartheidsjare op hok gehou het nie. Demp ’n bietjie daardie Afrikaanse geen van voorskriftelikheid, mense. Van julle is nog lekker jonk.

Anderhalf dekade gelede het ek vir Rapport ’n artikel geskryf oor die destydse stand van Afrikaanse organisasies en instellings so tien jaar in die nuwe bedeling in. “Die groot platval,” was die opskrif. Die ATKV en Solidariteit was ál op wie daardie opskrif nie van toepassing was nie. En sedertdien het albei sterker geword.

Hulle hoort nie in mekaar se hare nie. Nie met die soort toekoms wat op Afrikaans afstorm nie.
Copyright © Ontbytsake 2017 - All rights reserved.  |  Privacy Policy  |  Terms & Conditions
 site