Ekonomiese Advies
Daar is nie `n beter en lekkerder werk as om ekonoom te wees nie. Ons kan gereeld simpel goed sê en daarmee wegkom. Dink nou maar aan Karl Marx, sy idees het miljoene mense vir dekades in `n soort van slawerny gedompel onder die voorwendsel dat `n werkersparadys geskep word. Maar alles wat ekonome sê is darem nie onwaar nie...Om die waarheid te sê, ekonome was van die grootste “uitvinders” in die geskiedenis. Byvoorbeeld, ekonome het “uitgevind” dat onbeperkte handel tussen lande goed vir beide lande is, dat individuele vryheid en eiendomsreg goed is vir ekonomiese groei en dat mense op aanmoedigings (incentives) reageer. In die proses het ekonome gereedskap ontwikkel om hulle teorieë te toets. Ekonomie gaan oor die gedrag van mense, en sekere spelteorieë is deur die eeue deur ekonome ontwikkel om mense se gedrag te ontleed. So byvoorbeeld is die bekende “dilemma van die gevangene” (prisoner’s dilemma) ontwikkel om mense in moeilike situasies te plaas om hulle gedrag te ontleed. (In die geval van die dilemma van die prisonier, word twee gevangenes in aparte selle geplaas en verskeie opsies gegee wat uiteindelik daarop neerkom dat hulle mekaar ondermyn ten einde hul eie lot te verbeter, selfs al sou dit beter gewees het vir beide om eerder stil te bly.)Met die gevangenes word die aanmoediging om mekaar te ondersteun en om lojaal teenoor mekaar te wees versteur deur hulle voor ongemaklike keuses te plaas. Uiteindelik word hulle verhouding ondermyn wat aan die aanklaer die nodige getuienis gee om hulle te vervolg. Die vraag ontstaan dus of `n variasie op die dilemma van die gevangenes nie ook gebruik kan word om korrupsie te beveg nie? Wel ek dink beslis so! My voorstel is om korrupsie te wettig. Voor ek verder gaan moet ek darem sê dat dit nie my oorspronklike idee is nie (alhoewel my weergawe ietwat verskil van die vorige voorstelle), onlangs het Prof. Kaushik Basu van Indië byvoorbeeld weer ? soortgelyke voorstel gemaak. Hier is my voorstel, wettig die aksies van die omkoper terwyl die optrede van die omgekoopte steeds onwettig bly. (Ignoreer moontlike regsmoeilikhede en selfs morele argumente vir die oomblik.) Dus, enige persoon kan omkoop soveel hy wil, maar, om omgekoop te word bly onwettig terwyl addisionele sanksies die omgekoopte ook tref terwyl addisionele voordele die omkoper toekom (dis hier waar my voorstel van ander verskil.) Die hele idee is om die tweeledige voordelige en hegte verhouding tussen die omkoper en omgekoopte te ondermyn; soos in die dilemma van die gevangenes. Hier is `n paar voorbeelde; Ek word deur ? verkeerspolisieman gestop omdat ek te vinnig ry. My boete is R1000.00. Ek gee aan die polisieman R100.00 omkoopgeld sodat hy nie die boetekaartjie van R1000.00 uitskryf nie. Dis tans tot ons beide se voordeel om stil te bly oor die voorval; ons is in soort van ? broederlike vertrouensvennootskap. Alhoewel, met my voorstel kry ek die reg om die verkeerspolisieman aan te kla (neem aan ek kan alles bewys), ek kan my R100.00 van hom terugeis en ek word nie vir my oorspronklike spoedoortreding vervolg nie. Die polisieman, daarenteen, moet my R100.00 terugbetaal, word normaalweg krimineel vervolg en moet my oorspronklike boete van R1000.00 aan die staat betaal. Voorbeeld twee; Ek koop mnr. M om vir R1m sodat ek ? staatskontrak, wat R10m werd is, kan kry. Ek verkla hom, kry my R1m terug vanaf mnr. M en behou die kontrak van R10m. Mnr. M moet my R1m terugbetaal, word krimineel vervolg en moet skadevergoeding van R10m aan die staat betaal.Die gevolg van my voorstel is dat omkopers, sonder die vrees van vervolging, openlik sal probeer omkoop, en, sodra hulle daarin geslaag het word omkopers sterk aangemoedig om die omgekoopte te verkla. Potensiële omgekooptes word weer sterk ontmoedig om omgekoop te word weens die gevolge wat daaraan gekoppel word. Die gevolg is minder korrupsie (ek dink so...). Nietemin, miskien moet ons begin eksperimenteer met spelteorieë om die geweldige en toenemende vlakke van korrupsie in die land aan te spreek. Wat duidelik is, is dat die huidige stelsel nie werk nie. Miskien kan ons iets nuuts “uitvind”...
Dawie Roodt is die Hoofekonoom van die Efficient Groep dawieroodt@efgroup.co.za