|
|

|
Sanlam Trust Fokus met Berrie Botha
Epos
Druk
|
Loer elke tweede week hier waar Berrie Botha van Sanlam Trust 'n bietjie meer met ons sal gesels en inligting verskaf oor boedelbeplanning, testamente, boedels en trusts.
Februarie 2010
|
BEREDDERING VAN BESTORWE BOEDELS
Een van Sanlam Trust se produkte en dienste is die bereddering van bestorwe solvente boedels.
Dit behels onder meer die aanmeld van die boedel by die Meester van die Hoë Hof, die beredderingsproses wat daarna volg en hierin gedeeltelik bespreek word tot by die opstel van ‘n finale likwidasie- en distribusie-rekening. Hierdie rekening gee rekenskap van alle bates, laste sowel as wat elkeen erf volgens die bepalings van die testament of die Intestate Erfreg en wat daarvolgens aan begunstigdes uitgekeer, oorhandig en oorgedra word.
Sanlam Trust beredder nie net boedels waarin hulle alleen of as mede-eksekuteur aangestel is nie. ’n Groot persentasie van hul boedels word onder volmag en mandaat beredder wat verkry is van individue soos byvoorbeeld die langslewende gade, kind of ouer wat as eksekuteur aangestel is, asook van instansies.
Wat is die eerste stap wat ’n eksekuteur moet volg indien Sanlam Trust genader word om die boedel namens hom of haar te beredder:
• Sanlam Trust kan direk of deur middel van ’n adviseur of makelaar genader word. • Sanlam Trust moet in besit gestel word van die maksimum inligting beskikbaar soos byvoorbeeld die testament en indien intestaat, dan die name van die moontlike intestate erfgename, asook ’n voorlopige lys of staat van boedelbates en laste. Tydens evaluering sal daar ook gekyk word na die solvensie en likiditeit van die boedel en of buitengewone omstandighede die beredderingsproses dalk mag beinvloed. • Indien Sanlam Trust bereid is om die boedel te beredder sal ’n skriftelike kwotasie ten opsigte van hul fooie voorsien word, asook wat hul waardeproposisie sal wees.
Wat is die volgende stap wat die eksekuteur moet volg indien kwotasie aanvaar word?
• Nadat die mandaat onderteken is moet die boedel aan Sanlam Trust gerapporteer en alle relevante dokumente en inligting beskikbaar, voorsien word. Indien ’n adviseur of makelaar betrokke is, kan dit aan hom of haar voorsien word wat ook behulpsaam sal wees met die voltooiing van die dokumente wat deur die Meester benodig word. • Sanlam Trust meld dan die boedel by die Meester aan en sodra die eksekuteur amptelik aangestel is kan ’n volmag onderteken word.
Hoe lank neem ’n boedel om af te handel?
• Volgens Sanlam Trust se statistieke van 2009 was die gemiddelde afhandelingsperiode van hul afgehandelde boedels oor ’n sekere tydperk sewe maande gewees. • Sommige boedels is vinnig om af te handel en ander neem natuurlik heelwat langer. • Dit is tot die eksekuteur en erfgename se voordeel dat boedels vinnig afgehandel word.
Wat verhinder Sanlam Trust, en seker ander beredderaars ook, om boedels vinniger af te handel?
• Daar kan nie met sekere boedelprosesse begin word sonder ’n eksekuteursbrief, wat deur die Meester uitgereik word, nie. • Gelukkig het Sanlam Trust prosesse in plek om die uitreik van eksekuteursbriewe te probeer bespoedig. • Dienslewering deur derdepartye. • Kontanttekorte in boedels. • Betwiste eise. • Geen samewerking van erfgename. • Swak opgestelde testamente deur verál onkundiges.
Wat is Sanlam Trust se waardeproposisie vir boedelbereddering?
• Bankkoste is eenmalig (tans R200) en alle fondse op boedeltjekrekening verdien daggeldkoerse vanaf Rand Een. • Daar word van onafhanklike waardeerders gebruik gemaak wat geen voordeel trek uit hoë waardasies nie. • Boedels van Sanlam Trust betaal nie vir advertensiekostes vir veilings indien daar van hul voorkeurverskaffers gebruik gemaak word nie. • Streng kwaliteit- en kontroleproses word in alle boedels toegepas. • Bereddering is ook onderworpe aan interne en eksterne oudit. • Kontinuiteit en sekuriteit.
(Sanlam Trust; Februarie 2010)
|
|
|
|