Alles wat jy oor piesangbrood moet weet: Ons vier Nasionale Piesangbrooddag
Piesangbrood bly ’n tydlose gunsteling in baie kombuise en daarom vier ontbytSAKE vandag Nasionale Piesangbrooddag. Ons het met ons smulSAKE-aanbieder, Corli Prinsloo, gesels en haar uitgevra oor alles van geheime wenke tot algemene foute as dit kom by piesangbrood.
Wat is jou geheime bestanddeel wat 'n gewone piesangbrood besonders maak?
Bruin botter. Ek smelt die botter stadig tot dit neuterig ruik. Dit gee 'n diep, warm geur wat jou piesangbrood onmiddellik "next level" maak.
Wat doen mense gewoonlik verkeerd wanneer hulle piesangbrood bak?
- Hulle meng die beslag te veel. Sodra die meel ingevou is, moet mens klaar gemeng wees. Oormeng maak die brood dig en droog - piesangbrood moet klam en sag wees.
Wanneer is piesangs reg vir 'n piesangbrood?
- Wanneer jy dink: "Hierdie piesang lyk nou regtig lelik." Baie bruin, amper swart kolle, sag en soet. Hoe ryper, hoe beter die geur.
Salted Caramel, Sjokolade of Neute in 'n piesangbrood?
Salted Caramel. Daardie soet-sout balans saam met piesang ... onweerstaanbaar! Dit voel sommer dadelik "gourmet." OF as jy my regtig wil bederf ... GLADDE grondboontjiebotter!
Warm piesangbrood met botter OF koue piesangbrood met konfyt?
Warm piesangbrood met botter. Geen kompetisie nie! Die botter wat smelt is ontbyttroos op sy beste ... en die korsie natuurlik.
As jy 'n "gourmet" piesangbrood vir 'n restaurant moes bak, wat sou jy byvoeg?
Bruin botter, vanielje, grondboontjiebotter en geroosterde pekanneute. Ek sal dit dan bedien met 'n ligte mascarpone-room en 'n soetkaramel-drizzle. Eenvoudig en elegant, maar VOL karakter!
Piesangbrood saam met koffie OF tee?
Persoonlik sou ek dit beslis saam met tee geniet, maar 'n goeie koppie filterkoffie bring die soet en neuterige note van die piesangbrood perfek uit.
INTERESSANTE FEIT:
Het julle geweet? 👀 Corli Prinsloo is eintlik glad nie ’n aanhanger van piesangs nie, maar gee vir haar ’n bak en ’n paar ryp piesangs, en sy maak ’n uitstekende piesangbrood! 🍌🍞😄
soortgelykeARTIKELS
Soortgelyke artikels wat jy dalk weet will lees