Dawie Roodt keer terug na Kilimanjaro – dié keer op twee wiele!
Toe die bekende ekonoom en ontbytSAKE aanbieder, Dawie Roodt, twee jaar gelede vir die eerste keer die hoogste berg in Afrika, Kilimanjaro, uitgeklim het, het hy bo-op die piek gesit en wonder: sou dit moontlik wees om van hier met ’n fiets af te ry, of selfs met ’n paraglider af te vlieg? En soos dit spreekwoordelik lui, die res is geskiedenis.
In teenstelling met baie mense, leef Dawie Roodt nie volgens die tradisionele “emmerlysie” nie. Vir hom is uitdagings soos Kilimanjaro nie buite bereik nie, mits jy fiks, gesond en vasberade is. “Om Kilimanjaro te klim is nie besonders moeilik nie,” verduidelik hy. “Jou kop moet sterk wees, jy moet stadig beweeg en jy moet warm slaap.” Omdat hy dit al voorheen aangepak het, was daar geen twyfel dat hy dit weer sou doen nie. Hierdie keer was dit egter besonders spesiaal: hy het die ekspedisie saam met sy seun, Kristoff, aangepak. “As ek een hoogtepunt moet uitsonder, was dit beslis om saam met my seun op die hoogste punt van Afrika te kon staan,” vertel hy.
Voor die ekspedisie moes Dawie sowat vyf tot sewe kilogram afskud. Die klim het tussen vyf en ses dae geduur, en dit was juis hier waar hy ’n waardevolle les geleer het. “Die fout wat ek gemaak het en wat ek beslis nie weer sal maak nie, was om te min te eet,” vertel hy. “Jy moet baie eet en jy moet baie drink. Jou liggaam het energie nodig. Die enjin het petrol nodig.”
Hy verduidelik dat hy normaalweg maklik twee ure kan gaan draf sonder om te eet of te drink, aangesien sy liggaam daaraan gewoond is en reserwes het. “Maar doen dit vir vyf tot ses dae aaneen, en jou wieletjies raak pap. Dit het naderhand gevoel asof ek teen ’n muur vasloop. Ek moes deurdruk,” sê hy.
Terwyl die klim dae lank se volharding verg, het die tog af met die fiets net sowat een uur en 22 minute geduur. Dit is egter onmoontlik om van die heel boonste punt af te ry, aangesien die kruin van Kilimanjaro ’n yswoestyn is en bykans ontoeganklik vir ’n fiets. Eers laer af begin die werklike avontuur. Hier ontvou die berg se tropiese woude in volle glorie, ’n asemrowende ervaring. “Dis ongelooflik steil af … en dit hou aan, en dit hou aan, en dit hou aan,” vertel Dawie.
As ekonoom kon Dawie nie anders as om ook ’n parallel tussen sy ervaring en die ekonomie te trek nie. Hy verduidelik dat die klim van ’n berg baie ooreenstem met die bou van ’n besigheid, of selfs met die pad wat ’n land se ekonomie loop. “Dit verg voorbereiding, beplanning en die nodige ondersteuning,” sê hy. “Dit verg soms ook bloed, sweet en trane. Maar as jy eers op die piek staan, dan pluk jy die vrugte en dan ry jy teen ’n vinnige pas af.”
Dawie meen dit sou beslis moontlik wees om volgende keer met ’n paraglider af te vlieg. “Die uitdaging sal wees om van die berge af weg te kom, maar dit is moontlik om ’n opstygpunt te kry.” Vir hom is daar egter nóg ’n avontuur op pad: in Maart volgende jaar (2026) beplan hy om die Rome-marathon te hardloop.
Of dit nou die klim van Kilimanjaro is, die afdraand op ’n fiets of die kilometers deur Rome se strate, Dawie Roodt wys keer op keer dat groot uitdagings met deeglike beplanning, deursettingsvermoë en ’n tikkie durf moontlik is.
soortgelykeARTIKELS
Soortgelyke artikels wat jy dalk weet will lees