25 Jaar Ontbytsake

smulSake

Ons sjef, Corli Prinsloo, wys ons hoe om maklike geregte te maak met ’n lekker kinkel van haar eie om die dis net daardie ekstra lekkerte te gee om jou gesin en gaste mee te bederf. Kry die resepte hier.

Terug
Perske, Burrata, Tamatie & Geroosterde Spek Slaai

2 weke gelede

Perske, Burrata, Tamatie & Geroosterde Spek Slaai

Bestanddele

Bedien: 6 mense

3 bakkies Burrata-kaas
6 geel kaalperskes
1 pakkie roketblare
1 pakkie vars basiliekruidblare
1 bakkie rosa-tamaties
1 bakkie granaatpitte
1 bakkie vars basiliekruidpesto
2 pakkies repiespek
3 E bruinsuiker of heuning
1 handvol vars kruisementblare
150 g pistachio- of dennepitte
Balsamiese reduksie (balsamic glaze), vir garnering
Heuning, vir garnering (opsioneel)
Varsgemaalde swartpeper

METODE
1. Berei die spek voor
Voorverhit die oond tot 200 °C en voer ’n bakplaat met bakpapier uit.
Sny die spekrepies in die helfte en pak dit langs mekaar op die bakplaat. Sprinkel die bruinsuiker oor die spek, of bedruip die heuning daaroor, indien verkies.
Rooster die spek in die oond tot dit goudbruin en krakerig is. Haal uit die oond en laat effens afkoel.
2. Berei die slaaibestanddele voor
Gebruik ’n groot, plat slaaibak, of individuele bordjies, indien verkies.
Sny die perskes in wiggies en halveer die rosa-tamaties. Berei al die ander bestanddele voor sodat alles gereed is voordat jy die slaai begin pak.
3. Pak die slaai
Begin met ’n laag roketblare en vars basiliekruidblare.
Pak die perskewiggies en rosa-tamaties bo-op die blare.
Dreineer die oortollige vloeistof van die burrata. Indien jy individuele slaaie bedien, breek die burrata in kleiner stukkies en versprei dit oor die slaai. Vir ’n groot slaaibak kan jy die burrata-balle heel in die middel of tussen die ander bestanddele plaas.
Voeg die vars kruisementblare, basiliekruidpesto, pistachio- of dennepitte en granaatpitte by.
4. Voeg die spek by
Plaas die geroosterde spekrepies tussen die verskillende bestanddele sodat dit mooi oor die slaai versprei is.
5. Garneer en bedien
Bedruip die slaai met balsamiese reduksie en voeg ’n bietjie heuning by, indien verkies.
Geur laastens met varsgemaalde swartpeper.
Bedien dadelik.

onsGEMEENSKAP

Bly op hoogte van ons doen en late