Onafhanklike Kunstenaars: Kliek hier om in te skryf vir die Aitsas 2024!

projekSake

ontbytSAKE is betrokke by heelwat feeste, geleenthede en toekennings deur die jaar soos Innibos, Aardklop, Veritas en Terroir wyntoekennings.

'n Hart en passie

'n Hart en passie vir onafhanklike kunstenaars en rolspelers in die Afrikaanse musiekbedryf het gelei tot die stigting van die Rug Teen Rug-inisiatief, wat onlangs bekend gestel is.

Dié inisiatief is van stapel gestuur deur TheB4i-projek, wat ook die oorhoofse maatskappy is waaraan die gewilde kykNET-program Ontbytsake behoort, ter ondersteuning van onafhanklike kunstenaars.

Volgens Louis McClaren, uitvoerende hoof van TheB4i-projek, is onafhanklikes in die bedryf uitgelewer aan verskeie uitdagings soos finansiering en verspreiding, en is Rug Teen Rug geskep as 'n platform wat na dié belange van onafhanklike rolspelers kan omsien.

“Ek het besef kunstenaars is kreatiewe mense wat nie noodwendig tyd of ervaring het om aandag te gee aan sakebedrywighede of geldsake nie. Rug Teen Rug is van stapel gestuur om onafhanklike kunstenaars en musiek te bevorder. Dit was ook hoofsaaklik die doelstelling toe ons maatskappy, Ontbytsake, verkry het,” sê Louis in Maroela Media se ateljee.

“Mense wat gevegskuns of diepseeduik ken, sal weet daar is 'n baie goeie tegniek wat soldate en duikers gebruik waar hulle rug teen rug staan en dit plaas jou in ʼn posisie om alle flanke te dek. Die naam van die inisiatief is op die terme van daardie beginsel geskoei.”

Louis sê hy en sy span het veral ná afloop van die Covid-19-pandemie besef dat Afrikaanse onafhanklike kunstenaars en rolspelers 'n ondersteuningsnetwerk nodig het, aangesien die bedryf op sy knieë gedwing is tydens die pandemie.

“Ek het begin planne beraam om die kunstenaars te bemagtig en wou iets daarstel waar dit nie nodig is vir kunstenaars om hulle musiek en kreatiewe vryheid weg te teken nie en waar hulle in ʼn veilige omgewing steeds beheer kan hê oor hulle musiek.”

Een van Rug Teen Rug se eerste projekte is die liedjieskrywerskompetisie wat verlede jaar aangebied is. Ruan Jordaan, wat deel gevorm het van die tweede seisoen van Die Kontrak, se liedjie, “Rug teen rug”, is as die wenner gekies. Muller Brandt het die liedjie gesing en opgeneem.

“Ons het meer as 150 inskrywings vir die kompetisie gekry en ons het toe 'n klomp onafhanklike kunstenaars met die liedjieskrywers belyn.”

Enigiemand wat met Louis wil kontak maak oor die Rug Teen Rug-inisiatief kan ʼn e-pos stuur na louis@ontbytsake.co.za.

Kyk saam met ontbytSAKE hoe vandag se projekSAKE ander SAKE beinvloed.

Vind meer uit oor ander SAKE en sien waarmee ontbytSAKE besig is.

onsGEMEENSKAP

Bly op hoogte van ons doen en late