Onafhanklike Kunstenaars: Kliek hier om in te skryf vir die Aitsas 2024!

vroueSake

’n Segment spesiaal opgedra aan al die dinamiese vroue in ons land. Dié wat ’n verskil in die samelewing maak deur middel van entrepreneurskap en bemagtigingswerk.

vroueSAKE met Charlene Lackay

Charlene gesels met een van die ambassadeurs van die B Loved Stigting, Zephne Weston, om meer uit te vind wat hierdie welsynsorganisasie van The B4i Project alles doen om weerlose mense te bemagtig. 

Artikel

Vroue wat heelmaak //Waar daar liefde is

Geskryf deur
Deur Rentia Mynhardt

Vroue wat heelmaak //Waar daar liefde is

Hulle het sagte harte van goud; iets wat hulle nóg mooier maak. In die proses om stukkendes te help heel word, leef hierdie ambassadeurs liefde as werkwoord uit.

“Hierdie ses beeldskone vroue dien as ambassadeurs, oftewel die openbare gesig van die B Loved Foundation. Hulle vervul hierdie rol met passie en geesdrif omdat hulle in die saak glo, en dra dié organisasie se missie en waardes trots uit.”

kykSAAM

As beurtkrag jou kniehalter om Saterdae te kyk, daar is heelwat herhalings van die program op kykNET en kykNET & kie en ons YouTube kanaal.

B Loved, ’n inisiatief van die B4i-projek, volg die Kintsugi-beginsel: ’n Japannese kunsvorm waar stukkende erdewerk van die pottebakker met goud herstel word. Só word die littekens gekoester en in die proses word die breekgoed se waarde verhoog. B Loved doen dieselfde met stukkende mense. Hulle weerloosheid word omarm terwyl daar op herstel en opheffing gefokus word totdat hulle weer hul eie waarde besef. Die goue draad wat deur al B Loved se programme loop, is liefde en sorg, omdat liefde alles kan genees, alles kan vergewe en alles kan oorkom. 

B Loved bied ’n reeks projekte aan wat verskeie uitdagings in Suid-Afrika aanspreek. Die hoofdoel van al die projekte is mense se herstel. 
Regain fokus daarop om slagoffers van mensehandel te rehabiliteer. 
Youth Development fokus daarop om kinders te versorg en te ondersteun. 
Community Aid fokus daarop om gemeenskappe asook infrakstruktuurprojekte te bemagtig. 
Nurture SA fokus op voedingskemas.
rooi rose het met ses van B Loved se ambassadeurs gesels wat deurlopend by al die projekte betrokke is; elkeen met ’n passie om emosionele pyn te verlig. 

Samantha Leonard: Die sanger
Samantha Leonard, die wenner van Die kontrak-sangkompetisie se tweede seisoen – het in 2023 as ambassadeur by B Loved aangesluit en help sedertdien om bewustheid oor dié stigting, hul missie en hul waardes, te bevorder. 

Samantha sien musiek as ’n taal wat almal verstaan, ’n taal wat hoop gee en genees. Verder beskou sy liefdadigheid as ’n voorbeeld van die mens se vermoë om ander lief te hê. “Soos ek hierdie liefde ontvang, sal ek hierdie liefde deel. Vir my beteken dit om diegene rondom my te dien op ’n manier waartoe ek geroep word.”

Sy voel dat liefdadigheid ’n manier is om ’n positiewe impak op iemand se lewe te maak en daardie mens te help om met waardigheid en respek te leef. “Liefdadigheid maak dit moontlik om iemand in nood te ondersteun, ’n verskil te maak en aan jou gemeenskap terug te gee.” Sy is eerstens ’n ambassadeur vir Jesus Christus. “Ek wil hê mense moet weet dat hulle nie alleen is nie. My hart het B Loved gekies. Die Here lei daardie stem, en ek luister!”

Samantha sien met groot verwagting en drome uit na die toekoms, asook na die kans om aan haar mense, haar “familie”, terug te gee.

Vasti Spiller: Die storieverteller
As fotograaf en skrywer sien Vasti Spiller haarself as ’n storieverteller. Hoewel sy as ambassadeur sedert 2022 by verskeie van B Loved se projekte betrokke is, het sy ’n sagte plekkie vir slagoffers van mensehandel. Dit is hier waar sy die boodskap van B Loved deel en uitleef omdat sy glo dat enigiets wat gebroke is, steeds ’n doel op aarde het.

“My betrokkenheid by hierdie spesifieke projekte gee my die geleentheid om te ervaar hoe gebroke mense weer hoop kry, en hoe slagoffers wat gedink het dat hulle geen toekoms meer het nie, weer God se liefde beleef.”
Haar kinderboek, The Art of Loving, fokus op heelwording ná mensehandel en maak mense van dié onderwerp bewus. Dit gee hoop en verander mense se opvattings oor die rol wat liefde in ons lewens speel. 

“Ek is baie dankbaar dat ek my teenwoordigheid en stem kan gebruik vir iets wat regtig saak maak. Almal in Suid-Afrika moet bewus wees van die gevare wat mensehandel inhou. Dis maklik om te maak asof hierdie dinge nie bestaan nie, maar dit is ons verantwoordelikheid om op te staan vir dit wat reg is en ons kinders en jongmense te beskerm.”

Savahna Grimbeek: Die atleet
Savahna Grimbeek is al byna twee jaar lank B Loved se “Running with a purpose”-ambassadeur waar sy gereeld haar hardloopskoene aantrek en spesifiek vir die bewusmaking van mishandeling van vroue en kinders hardloop. 

“Ek is dankbaar dat ek my eie seer en teleurstelling tot voordeel van ander kan gebruik en op só ’n manier hoop kan bied.” ’n Groot motorongeluk en egskeiding het haar gebrei om deur B Loved ’n inspirasie vir weerlose vroue en kinders te wees wat onder verkragting, dwelmmisbruik of mensehandel deurgeloop het. “Ek wil graag ’n verskil maak deur hoop te bied. Ek inspireer en motiveer sover ek kan, en glo aan onvoorwaardelike liefde en om altyd daar te wees vir mense wat my nodig het.” 

Savahna bied al ’n paar jaar lank ma-en-dogter-kampe aan waaroor sy passievol meer deel. “Tydens so ’n kamp word daar onder meer op waardes, vriendskappe, kleredrag en hoe jy jou liggaam moet oppas gefokus.” Haar profetiese boek sal ook eersdaags op die rakke wees. Daarmee bring sy ’n silwer randjie te midde van donker wolke aan vroue wat op verskeie terreine in die lewe seergekry het. “Dit is my droom om die Woord daarbuite te kry en hoop te gee.”

Chanique Rabe Honeyborne: Die skoonheidskoningin
Chanique Rabe is in 2021 as Mej. Supranational gekroon en is sedertdien by verskeie opheffingsprojekte betrokke. Sy het as ambassadeur by B Loved aangesluit waar sy help met alles van kos uitdeel, geld insamel, tot geleenthede reël. 

“Ons is besig met ’n naaldwerkkursus wat ons by kinderhuise aanbied en dan werk ek ook tans aan ’n klerereeks wat ons gaan vrystel wat van A tot Z deur die vroue en kinders by die kinderhuise gemaak gaan word en vir hulle ’n bron van inkomste sal bied. Dit bemagtig nie net hierdie vroue wat soveel trauma beleef het nie, maar gee ook weer aan hulle selfrespek.” Chanique voel dis haar plig as kind van die Here om ’n verskil te maak waar sy kan.

“Wie is jy as jy nie ’n stukkie van jouself aan ander kan gee nie? Om te sien hoe vroue en kinders weer in hulself begin glo en hul selfvertroue terugkry, is baie kosbaar. Die B Loved-span werk bitter hard om ’n positiewe verskil in mense se lewe te maak. Ek is só trots om deel van hulle te kan wees.”

Juanita Kilian: Die apteker
As apteker met ’n doktorsgraad en ’n onderneming wat heeltemal rondom vroue gebou is, het Juanita Kilian as ambassadeur by B Loved betrokke geraak om ook hier haar passie verder uit te leef. “Waar ’n vrou eintlik ontwerp is om te vertroetel, te versorg en om te gee, moet ’n vrou deesdae op vele terreine haar man kan staan en baie stres hanteer. Hoe ons as vroue egter fisiologies aanmekaar gesit is, strook soms net nie hiermee nie en dit lei tot uitbranding en moedeloosheid.”

Juanita verduidelik dit is wanneer vroue begin glo hulle is nie goed genoeg nie; nie as vrou nie, nie as ma en vriendin nie en ook nie as sakevrou nie.  “Ek leer vroue hoe om regop te bly te midde van druk van alle kante af en om die beste weergawe van hulleself te wees in die verskillende rolle wat ’n vrou moet speel.” Juanita werk met drie organe, naamlik die brein, die spysverteringskanaal en die vel, en leer vroue hoe om hierdie organe te ondersteun om sodoende stres beter te kan hanteer. 

“By B Loved werk ek met vroue wat trauma ervaar en gee dit my die kans om vroue die boustene te gee om weer te kan floreer.”

Zephné Weston: Die oorwinnaar
Zephné Weston, Mevrou Heelal Afrika 2023, wat self al ’n groot gesondheidstryd gevoer het, help in haar rol as B Loved-ambassadeur met bewusmaking van die handelsmerk, die werklikheid van mensehandel, en adviseer maatskappye en individue wat finansieel by die projekte betrokke wil raak. “Ek ondersteun veral graag projekte wat met die jeug en vrouebemagtiging te doen het, asook met geslagsgegronde geweld omdat ek self daardie pyn ervaar het.”

Zephné het ’n passie vir liefdadigheidswerk en werk graag met dogters om hul selfvertroue op te bou en hul selfwaarde te koester. Omdat sy op ’n plaas grootgeword het, leer sy mense ook graag hoe om selfversorgend te wees. “Dit waarvoor B Loved staan, is presies in lyn met my persoonlike reis met Jesus. Hulle voel soos familie vir my.” Zephné se betrokkenheid by die stigting gee haar die kans om ’n verskil in haar gemeenskap te maak, ander te inspireer en om liefde uit te deel. Omdat sy verstaan hoe mishandeling jou menswees aftakel, is sy passievol daaroor om mense wat deur dieselfde gaan by te staan sodat hulle weet hulle is nie alleen nie en kán weer voor begin. “Ek wil net Jesus se boodskap en liefde versprei.” Hierdie ses B Loved-ambassadeurs maak stukkende mense stukkie vir stukkie beter. Hulle gee hoop en maak werklik ’n verskil. Verder is hulle ook bewys daarvan dat wanneer jou binneste die behoefte het om goeie en mooi dinge te doen, jou buitekant sommer nóg mooier word.

Besoek b-loved.org.za

Kyk saam met ontbytSAKE hoe vandag se vroueSAKE ander sake beinvloed.

Vind meer uit oor ander SAKE en sien waarmee ontbytSAKE besig is.

onsGEMEENSKAP

Bly op hoogte van ons doen en late