Onafhanklike Kunstenaars: Kliek hier om in te skryf vir die Aitsas 2024!

OOR

ontbytsake het met trots ons nuwe handelsmerk en programformaat op Saterdag 24 Junie 2023 bekend gestel. Dis dieselfde wenresep en wenspan, met ‘n vars, nuwe voorkoms en gevoel.

Die aanbieders is die ekonoom, Dawie Roodt, Charlene Lackay, die sjef, Corli Prinsloo en musikant, Leon Gropp.

ontbytsake het in 2021 hulle 1000ste program gevier, ’n mylpaal wat nie elke dag gebeur nie en net moontlik is as ’n ongelooflike groep mense saamwerk.

Hierdie gewilde oggendprogram op kykNET en kykNET & kie (kanaal 144 & 145) op DStv, fokus om vir klein- en medium-sakeondernemings nasionale televisieblootstelling te gee. Daarom is Ontbytsake al vir die afgelope drie-en-twintig-jaar ’n onmisbare deel van baie mense, regoor die uithoeke van Suid-Afrika en Namibië, se naweek-oggendroetine.

Aan die einde van 2021 het die stigter van die ontbytsake -wenresep, Johann Joubert, afgetree en deesdae is die program deel van The B4i Project se filiaal, B4i Productions, met uitvoerende vervaardiger, Louis McLaren.

Die logo is verander om die fokus meer op ‘SAKE’ te laat val, wat dan insluit verskillende segmente soos leefstylSAKE, vroueSAKE, ekonomieseSAKE, finansiëleSAKE en heelwat meer.

Daar is ook in-diepte paneel-besprekings rondom die SAKEfokus wees met kundiges uit die besigheidswêreld en entrepreneursbedryf wat sakeondernemings en tendense van KMO’s bespreek en raad gee.

Dawie Roodt

Dawie Roodt is al anker-aanbieder van Ontbytsake sedert die eerste program amper 21 jaar gelede die lig gesien het. Hy is ‘n welbekende ekonoom wat gereeld in die media aangehaal word oor verwikkelinge op die ekonomiese front. Hy is bekend daarvoor dat hy moeilike ekonomiese begrippe maklik verstaanbaar kan maak vir leke. Dawie is ook besonder uitgesproke oor ekonomiese kwessies en gee nie om om die hoogste gesag van die land aan te vat wanneer dit daarby kom nie.

Dawie is ‘n opregte Laevelder, gebore in die destydse Warmbad en het grootgeword in Tzaneen in Limpopo. Hy het sy BCom en BCom honneursgrade deur Unisa verwerf terwyl hy in die weermag was. Daarna het hy sy meestersgraad in Ekonomie met lof by RAU (nou UJ) verwerf.

Sy eerste werk was as ‘n rekenmeester by AVBOB en daarna as interne ouditeur by Trustbank, waarna hy as ekonoom by die Reserwebank begin werk het. Hy was ook al Ekonomiese redakteur van ‘n finansiële tydskrif en het vir ‘n aantal aandelemakelaars gewerk. Dawie is vandag ‘n direkteur en die hoofekonoom van ‘n genoteerde maatskappy, Efficient Group, waarvan hy ‘n stigterslid is wat verlede jaar hulle 20ste verjaardag gevier het.

Dawie is ‘n avonturier en 'n bok vir sports. Hy doen graag uithou-wedrenne oor die wêreld heen en het al aan die Baikal-ysmarathon in Rusland deelgeneem, Kilimanjaro geklim en saam met die olifante in Botswana fiets gery.

Op 'n persoonlike vlak, is Dawie getroud met Marina en hulle het ‘n tweeling dogtertjies, Daria en Yulia. Hy het ook ‘n dogter, Danielle en seun, Kristoff, uit ‘n vorige huwelik en is al 'n oupa ook.

By Ontbytsake is Dawie die een wat daardie ekstra bietjie pret aan die program verskaf. Hy is nie bang om iets nuuts te probeer nie en dis altyd lekker om te sien hoe Dawie gaste kan laat ontspan en uit hulle kassie laat klim. Dawie is ‘n mense-mens met ‘n opgewekte persoonlikheid en ‘n energie wat aansteeklik is.

onsGEMEENSKAP

Bly op hoogte van ons doen en late